Dagstukkies met CLF 29 November 2020

Wanneer kom die Here?

“Julle weet self maar alte goed dat die dag van die Here onverwags kom soos ’n dief in die nag”(1 Tessalonisense 5:2)

Die mense van Tessalonika het goed geweet dat die Here weer sal kom. Hulle het eintlik verwag dat die Here enige dag sou kom. Daarom vra hulle vir Paulus: wanneer kom die Here dan? Paulus moes vir hulle herhaal dat niemand weet nie, maar dat dit onverwags sal gebeur. Hy gebruik die beeld van die onverwagse koms van ’n dief in die nag, want niemand weet tog wanneer ’n dief sal kom om in te breek en te steel nie.

So het ons ook al uit die Bybel geleer dat die Here weer sal kom om sy kinders te kom haal. Ons praat van die wederkoms. Omdat ons nie weet wanneer dit sal wees nie, herinner Paulus ons daaraan dat ons elke dag gereed moet wees vir die Here se koms. Ons moet so lewe dat wanneer Hy kom, Hy sal vind dat ons besig is met sy werk. Dan kan ons saam met die Here vir ewig in die hemel gaan woon.

 

My Vader in die hemel, help my om elke dag gereed te wees vir u wederkoms. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 28 November 2020

God leer ons

“Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê” (1 Tessalonisense 4:9)

In vandag se stukkie lees ons hoe Paulus aan die gemeente in Tessalonika skryf. Paulus het self die gemeente daar gestig, en nou spreek hy sy blydskap uit dat hulle so sterk in hulle geloof staan.

Wanneer iemand van die Here hoor, en dan sy lewe aan Hom wy, vind hy dat geloof hom deur die lewe dra. Geloof is nie iets wat ons kan sien of aan kan vat nie. Maar wanneer die Heilige Gees in ons woon, gee Hy vir ons die geloof in die een ware God wat vir ons sorg.

Soos ons teksvers sê, is dit ook God die Heilige Gees wat ons leer om mekaar lief te hê. Kinders van die Here weet hoe om lief te hê, want ons leer dit van God. Hoe meer ons ons Bybel lees, hoe meer verstaan ons hoe God wil hê ons moet lewe. Lees elke dag jou Bybel, en jy sal leer hoe om ’n kind van God te wees.

 

Baie dankie, Here, vir so baie wat ek uit die Bybel kan leer. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 26 November 2020

Vir mans

“Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie” (Kolossense 3:19)

In Genesis lees ons dat God, nadat Hy vir Adam gemaak het, ook vir hom ’n vrou gemaak het wat by hom pas. God het gesien dat ’n man nie alleen kan wees nie. God het hulle so gemaak dat hulle kinders kan kry, sodat die aarde deur mense bewoon en bewerk kan word. Dit was ook God se bedoeling dat hulle vir mekaar moet lief wees.

Ons teksvers sê dat mans hul vrouens moet liefhê en nie die lewe vir hulle moei­lik moet maak nie. Ongelukkig hoor ons baie dat mans hul vrouens mishandel. Vrouens word geslaan, verstoot en daar word nie behoorlik vir hulle gesorg nie.

Die Here se groot gebod verwag tog dat ons mekaar moet liefhê. Indien jy getroud is, of eendag wil trou, onthou vandag se boodskap. God verwag dit van mans om hul vrouens lief te hê, te ondersteun en om mooi na hulle te kyk. Ek weet dat mans wat kinders van die Here is, goed vir hul vrouens sal sorg.

 

Here, help my om alle vrouens met liefde en respek te behandel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 25 November 2020

Vuil taal

“Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie” (Kolossense 3:8)

Dit maak ’n mens hartseer dat mense so lelik praat. Jesus het self gesê dat dinge wat mens se mond ingaan jou nie onrein maak nie, maar wel dit wat uit jou mond uitgaan! Mense gebruik vloekwoorde sonder dat hulle eers daaroor dink. Ook op televisie hoor ons al meer hoe God se naam misbruik word. As dit vir my en jou, wat God se kinders is, ontstel, hoeveel te meer sal die Here teleurgesteld wees in sulke mense.

Daarom waarsku Paulus die gelowiges om nie vuil taal te gebruik nie. Ek weet dat dit vir jongmense moeilik is om ouer mense tereg te wys as hulle vloek. Soms kan ons maar net vir sulke mense bid. Vra die Here dat die Heilige Gees sulke mense se harte sal verander. Gebed het groot krag, en die Here kan mense se lewens verander om nie meer vuil taal te gebruik nie.

 

Dankie, Here, dat U my bewaar teen vuil taal. Vergewe my en ook dié mense wat so lelik praat. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 23 November 2020

Moenie kommer nie

“Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (Filippense 4:6)

Ons mense is maar altyd bekommerd oor een of ander ding. Ons wonder of daar genoeg geld gaan wees vir môre se kos en klere. Ons is bekommerd of ons sal kan betaal vir ons kinders se skool en hul opvoeding. Of hulle eendag ’n werk sal kry gee vir ons slapelose nagte. As jy op ’n plaas werk, weet jy hoe ’n mens jou kan bekommer oor die weer en of daar ’n goeie oes sal wees.

Hier aan die einde van sy brief aan die Filippense gee Paulus weer goeie raad. Moenie so bekommerd wees nie, sê hy, ons moet net deur gebed alles vir die Here sê. Alles wat ons nodig het, kan ons by God sê. In ons teksvers staan dat ons dit wat ons nodig het van God moet afsmeek. Dit beteken dat ons ernstig en aanmekaar vir God kan vra. Die Here sal voorsien in alles wat ons nodig het. Daarna moet ons ook aan God dank­baarheid bewys vir alles wat Hy vir ons gee.

 

Dierbare Here, dankie dat U hoor as ek bid. Dankie vir alles wat ek van U ontvang. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 22 November 2020

Ander mense

“Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie,

maar ook aan dié van ander” (Filippense 2:4)

Elke mens wil net graag doen wat vir hom belangrik is. Ons werk hard en lang ure sodat ons die mooi en lekker dinge van die lewe kan koop en geniet. Elkeen wil net so ’n groot televisie of blink motor hê as sy buurman. Ons wil eintlik altyd een voor wees.

Ons teks vandag herinner ons daaraan dat ons ook aan ander mense moet dink. Daar is so baie mense wat swaarkry, wat nie aldag kos op die tafel het nie, daar is baie blindes en dowes wat nie die mooi natuur kan sien nie, of nie die voëls se gefluit kan hoor nie.

Ons moet nie net dink aan sulke mense nie, nee, ons moet ook gee sodat hulle ook ’n beter lewe kan hê. Elke Sondag in die kerk is daar ’n geleentheid om vir minder bevoorregtes te gee. Probeer om altyd daarvoor ’n bydrae te maak. Die Here gee vir my en jou so baie, daarom kan ons uit dankbaarheid iets teruggee.

 

Maak my gewillig, Here, om my deel te gee vir die minder bevoorregte mense. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 21 November 2020

Altyd God se kind

“Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in hulle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Filippense 1:6)

Hierdie brief aan die Filippense het Paulus geskryf terwyl hy in die tronk was. Hy sê dankie vir wat die gemeente vir hom en die Here gedoen het. Ook waarsku hy hulle teen mense wat God se boodskap verdraai en verkeerde dinge verkondig.

Paulus skryf dat hy ook aan die mense wat hom opgepas het die Woord van God verkondig het. So het selfs Paulus se gevangenskap ’n geleentheid gebied om die evan­ge­lie te verkondig.

Die goeie werk wat God in daardie gemeente begin het, sal Hy mee voortgaan tot die wederkoms van Christus. So sal die Here ook vir óns sorg totdat Hy weer kom. Wanneer God goeie dinge in mense begin, sal Hy altyd daar wees om vir hulle te sorg. As ’n mens een keer God se kind is, sal jy altyd sy kind bly.

 

Here Jesus, baie dankie dat ek u kind kan wees. Moet my nooit verlore laat gaan nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 19 November 2020

Gebruik jou kanse

“Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in

’n goddelose tyd”  (Efesiërs 5:16)

Die tyd waarin ons lewe is baie deurmekaar en vol sonde. Elke dag hoor ons van ver­keer­­de dinge wat rondom ons in die wêreld gebeur. Soms raak ons bekommerd, en wonder waar dit alles gaan eindig. Dit voel asof die duiwel al meer veld wen. Lank gelede, toe vandag se teksvers geskryf is, was die wêreld al vol sonde.

Vandag se teksvers roep ons op om ons geleenthede te gebruik. Dit beteken dat ons elke geleentheid moet gebruik om te getuig van die Here, en om sy Woord aan ander oor te dra. Ook moet ons elke dag probeer om beter kinders van God te word. Ons moenie eendag spyt wees omdat ons te min vir die Here gedoen het nie.

Ons kry elke dag geleenthede om ons lewe aan God te wy. Ek en jy moenie vir God teleurstel nie. Ons moet voluit vir Hom lewe.

 

Dankie vir al die kanse wat U vir my gee. Help my Here, om dit te gebruik. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 18 November 2020

’n Nuwe lewe

“As iemand ’n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op ’n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee” (Efesiërs 4:28)

In hierdie teksvers praat Paulus hard en reguit met die mense van Efese. Reeds in daardie tyd al was daar diewe wat gesteel het, en wat op ander mense geteer het.

Die Here wil hê dat almal wat verkeerd doen, ’n nuwe lewe moet hê. Elke mens moet deur harde werk vir homself sorg. Die Here het vir elke mens op aarde die opdrag
gegee om hard te werk, en sodoende ook iets vir die
armes te kan gee.

Daar sal altyd arm mense op aarde wees. Ek en jy moet net elke dag ons plig doen, dan sal die Here vir ons sorg. Ook sal Hy die liefde in ons harte gee sodat ons met groot dankbaarheid ook na die armes sal kan omsien.

Sê elke dag vir die Here dankie dat jy soveel meer het as baie ander.

 

Dierbare Here, baie dankie dat ek gesond is en kan werk. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 17 November 2020

Naby aan God

“Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus” (Efesiërs 2:13)

Dit is nooit lekker om ver van jou familie of vriende te wees nie. Wanneer kinders klaar is met skool, gaan hulle uit hul ouerhuis om te gaan werk of studeer. Soms moet hulle baie ver weg van hul ouers gaan bly. Hulle verlang baie en mis dan hul ouers se raad en ondersteuning.

Die Bybel leer ons vandag dat wanneer ons ons harte vir die Here gegee het, is ons naby aan God. Voordat ons sy kinders was, het ons ver van God gelewe. Dit is alles moontlik gemaak deur die bloed van Jesus, toe Hy aan die kruis vir ons sondes gesterf het.

Wanneer jy weer verlore en ver van jou ouers af is, onthou net dat jy baie naby aan God is. Jy is net ’n gebed ver van Hom af. Gaan op jou knieë, vertel vir God hoe jy voel, en Hy sal vir jou vrede gee.

 

Dankie, liewe Heer, dat U my hemelse Vader is, en dat U elke dag so naby my is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.