Dagstukkies met CLF 19 November 2020
November 19, 2020
Gebruik jou kanse
“Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in
’n goddelose tyd” (Efesiërs 5:16)
Die tyd waarin ons lewe is baie deurmekaar en vol sonde. Elke dag hoor ons van verkeerde dinge wat rondom ons in die wêreld gebeur. Soms raak ons bekommerd, en wonder waar dit alles gaan eindig. Dit voel asof die duiwel al meer veld wen. Lank gelede, toe vandag se teksvers geskryf is, was die wêreld al vol sonde.
Vandag se teksvers roep ons op om ons geleenthede te gebruik. Dit beteken dat ons elke geleentheid moet gebruik om te getuig van die Here, en om sy Woord aan ander oor te dra. Ook moet ons elke dag probeer om beter kinders van God te word. Ons moenie eendag spyt wees omdat ons te min vir die Here gedoen het nie.
Ons kry elke dag geleenthede om ons lewe aan God te wy. Ek en jy moenie vir God teleurstel nie. Ons moet voluit vir Hom lewe.
Dankie vir al die kanse wat U vir my gee. Help my Here, om dit te gebruik. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.