Dagstukkies met CLF 22 November 2020
November 22, 2020
Ander mense
“Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie,
maar ook aan dié van ander” (Filippense 2:4)
Elke mens wil net graag doen wat vir hom belangrik is. Ons werk hard en lang ure sodat ons die mooi en lekker dinge van die lewe kan koop en geniet. Elkeen wil net so ’n groot televisie of blink motor hê as sy buurman. Ons wil eintlik altyd een voor wees.
Ons teks vandag herinner ons daaraan dat ons ook aan ander mense moet dink. Daar is so baie mense wat swaarkry, wat nie aldag kos op die tafel het nie, daar is baie blindes en dowes wat nie die mooi natuur kan sien nie, of nie die voëls se gefluit kan hoor nie.
Ons moet nie net dink aan sulke mense nie, nee, ons moet ook gee sodat hulle ook ’n beter lewe kan hê. Elke Sondag in die kerk is daar ’n geleentheid om vir minder bevoorregtes te gee. Probeer om altyd daarvoor ’n bydrae te maak. Die Here gee vir my en jou so baie, daarom kan ons uit dankbaarheid iets teruggee.
Maak my gewillig, Here, om my deel te gee vir die minder bevoorregte mense. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.