Dagstukkies met CLF 12 Desember 2020

Geen vrees

“Daarom kan ons met vertroue sê: ‘Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie, wat kan ’n mens aan my doen?’ ” (Hebreërs 13:6)

Om bang te wees, is nie lekker nie. Elke mens wil graag veilig voel. As ons saans gaan slaap, vra ons vir die Here om ons deur die nag te beskerm. Daar gebeur so baie lelike dinge in die nag, en die skelms gebruik veral die nag om al hulle kwaad te doen.

Hierdie teks stel ons gerus: as ons op God vertrou, sal Hy ons beskerm sodat ons nie hoef te vrees nie. Al kry die polisie dit nie reg om al die skelms te vang nie, God is daar om ons teen al die gevare te beskerm.

Al voel jy soms bang en benoud, onthou net dat God ons baie lief het en ons nooit in die steek sal laat nie. Doen elke dag jou deel vir die Here, bid gedurig, vertrou op Hom.

 

Ek voel soms so bang, Here, help my om op U te vertrou sodat ek veilig kan voel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 10 Desember 2020

Lewe vir mekaar

“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Hebreërs 10:24)

In die begin toe God alles gemaak het, het Hy ook mense gemaak. Hy wou hê dat die mense moet meer word om die aarde vir Hom te bewoon en te bewerk. Wanneer daar ’n babatjie gebore word, is die ouers, familie en vriende baie opgewonde. Daardie nuwe mensie word mooi opgepas en versorg. Almal is baie lief vir daardie kindjie.

So moet ons ook na mekaar omsien, vir mekaar help en liefhê. Ons moet ook vir ander leer om so te leef. Soos ouers wat vir hul klein kindjie leer en die weg wys, so moet ons ook vir mekaar in die lewe bystaan en reghelp.

Hoekom het God ons mense op die aarde gesit? In die eerste plek is dit om God te dien en sy Naam te verheerlik, maar tweedens ook om vir mekaar, ons medemens, om te gee.

 

Dankie, Here, dat ek vir U kan dien. Leer my om ook vir almal om my te lewe. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 8 Desember 2020

Jesus verstaan

“Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:18)

Die duiwel is elke dag besig om God se kinders op die verkeerde pad te probeer lei. Hy doen sy bes om mense
te laat dink hoe lekker en goed die sonde is. Selfs in die kerk op Sondag lei hy mense se aandag weg van God se Woord af. Elke mens word die een of ander tyd deur
die duiwel versoek.

Ons lees in Matteus 4:1-11 hoe Jesus self deur
die duiwel versoek is. Jesus was egter getrou aan sy
Vader in die hemel, en het elke versoeking weerstaan. Op baie ander maniere het Jesus ook gely, meer as ons
gewone mense.

Omdat Jesus self versoek is, verstaan Hy wanneer ons as swakke mense versoek word. Wanneer jy weer in versoeking kom, vra net dat die Here jou moet krag gee om staande te bly. Hy ken jou hart en verstaan jou omstandighede. Onthou, God wil jou beskerm teen die duiwel, want Hy het jou lief.

 

Here Jesus, so baie keer word ek versoek. Vat asseblief my hand en lei my op die regte pad. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 7 Desember 2020

Elkeen God se kind

“Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom” (Filemon 1:12)

Paulus skryf ’n kort briefie aan Filemon, ’n vooraanstaande Christen in Kolosse. Filemon se slaaf Onesimus het weggeloop. Dit was ’n ernstige oortreding. Maar gelukkig het hy by Paulus uitgekom, wat hom na die Here gelei
het. Nou skryf Paulus hierdie brief aan Filemon om
hom te vra om sy slaaf terug te ontvang. Maar nou dring hy by Filemon aan om Onesi­mus nie alleen as slaaf
terug te verwelkom nie, maar nou ook as “geliefde broer
in Christus”.

Uit hierdie verhaal kan elkeen van ons ’n groot les leer. Die arbeider wat ’n Christen is, is netso deel van God se familie soos die werkgewer wat aan God behoort.

Die Here gee nie om of jy ’n straatveër is of ’n koning nie, as jy God se kind is, is jy lid van God se huisgesin. God sien nie neer op iemand wat arm is of ’n nederige werk doen nie. Ons moet ook nie. Die Here stel net belang in ons verhouding met Hom.

 

Dankie, Here, dat U my aangeneem het as u kind, al is ek net ’n gewone mens. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 6 Desember 2020

Jong mans

“Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle

verstandig te gedra” (Titus 2:6)

Titus het nie ’n Joodse agtergrond gehad nie, maar het uit die heidendom tot bekering gekom. Hy was leier van die gemeentes op die eiland Kreta, waar hy ook mense moes aanstel om as ouderlinge te werk. In hierdie brief gee Paulus vir hom raad oor hoe om op te tree.

Veral vir die jong mans moes Titus vermaan om verstandig op te tree, God se wil te doen en om die
mooi en goeie dinge in die lewe na te streef. Ons weet
mos dat jong­er mans soms verkeerde dinge doen. Hulle is vol energie, hulle wil alles probeer en hulle eie kop
volg. Daarby wil hulle ook nie graag raad van ander aanvaar nie.

Indien jy ’n jong man is, en dit geld ook vir jong meisies, wees tog verstandig en ’n voorbeeld vir ander jongmense. So kan jy getuig van God se leiding, en kan jy ander vir die Here wen.

 

Here, ek doen ook maar dikwels die verkeerde dinge. Laat u Heilige Gees my lei om die regte pad te loop. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 5 Desember 2020

Verdra onreg

“’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wees

wat onreg kan dra” (2 Timoteus 2:24)

 

In die Bybel is daar baie riglyne oor hoe ons as kinders van die Here moet lewe en optree teenoor ander mense. Veral in die briewe van Paulus kry ons goeie raad oor ons lewe met ander mense.

Vandag se Woord is dat ons vriendelik moet wees en nie rusie moet maak nie. Wat veral belangrik is, is dat ’n kind van die Here onreg moet kan verduur. Met ander woorde, as iemand teenoor jou onregverdig optree, moet jy altyd kalm bly. Weet dat die Here dit raaksien en met jou sal wees. Baie Christene moes al ernstige onreg verduur in hierdie wêreld van ons.

Wanneer jy weer gespot word of onregverdig behandel word omdat jy ’n kind van die Here is, onthou dat die Here dit weet en alles raaksien. Hyself sal die mense wat jou te na kom oordeel volgens hulle dade.

 

Help my Here om getrou aan U te bly, al word ek onregverdig behandel. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 4 Desember 2020

Harde werk

“Die broer wat die harde werk doen, behoort eerste ’n deel van die oes te kry”

(2 Timoteus 2:6)

Hierdie tweede brief aan Timoteus skryf Paulus vanuit gevangenskap. Hy wil hê dat Timoteus met geduld God se Woord verkondig. In daardie tyd, soos ook vandag, het die mense geneig om ver van die Here te leef.

Timoteus moet aanhou om hard te werk vir God se koninkryk, en hy sal beloon word. Paulus vergelyk dit met ’n boer wat hard werk, maar dan geregtig is om die eerste deel van die oes te eet en te geniet.

Dit is vir almal lekker om na harde werk beloon te word. Werk jou lewe lank hard vir die Here, en jy sal die grootste beloning kry – die ewige lewe, en om vir altyd by God in die hemel te woon.

 

Here, gee vir my asseblief elke dag die krag om hard vir U te werk. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 2 Desember 2020

Nooit te jonk

“Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ’n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid” (1 Timoteus 4:12)

Gister het ons gelees dat Timoteus ’n jongman was. Paulus skryf aan hom dat hy nogtans ’n voorbeeld vir ander mense kan wees. Niemand hoef op hom neer te sien nie. Hy moet deur sy gedrag wys dat hy liefdevol is, ’n vaste geloof het, en ’n rein lewe lei.

Miskien is jy ook nog jonk. Soms voel jy minderwaardig, en dink dat jy nie oud genoeg is om vir God se koninkryk te werk nie. Jou jare tel nie by God nie. Enigeen wat ’n opregte kind van die Here is, kan vir Hom werk.

As jy die behoefte het om vir ander van die Here te vertel, bid tot God, en Hy sal jou help om te sê wat jy moet. Hoe meer jongmense van God getuig, en volgens sy wil lewe, hoe beter sal dit in ons samelewing gaan.

 

Here Jesus, al is ek nog jonk, gebruik my om vir U te werk. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 1 Desember 2020

Leiers van die gemeente

“Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem?” (1 Timoteus 3:5)

Hier skryf Paulus aan ’n jongman met die naam
Timoteus. Hy was ’n medewerker van Paulus, en was soos ’n dominee wat die gemeente moes leer en lei. Soos alle jong­mense moes Timoteus ook raad kry, en hy was gelukkig dat Paulus met die wysheid van die Heilige Gees vir hom kon skryf.

Paulus skryf vir hom hier oor die ouderlinge en diakens van die gemeente. Hy skryf dat hulle goeie mense moet wees. Hulle moet eerlik, getrou aan hulle vrou, nugter en verstandig wees. Ook moes hulle nie aan drank verslaaf of rusiemakers wees nie. Verder, soos ons teksvers sê, moes hulle huisgesinne voorbeeldig wees.

As jy miskien eendag gekies word vir ouderling of diaken, onthou vandag se gedeelte. Wanneer jy bereid is om so in God se gemeente te dien, doen jy ’n eerbare werk.

 

Here, help my om ’n eerbare mens te wees, sodat ek ook vir U kan werk. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 30 November 2020

Moenie moeg word nie

“Wat julle betref, broers: moenie moeg

word om goed te doen nie” (2 Tessalonisense 3:13)

Hierdie tweede brief aan die gemeente in Tessalonika het Paulus geskryf omdat die mense nog steeds nie verstaan het wanneer die wederkoms sal plaasvind nie. Hulle het verwag dat die Here enige oomblik nog in hul leeftyd sou kom. Party het ophou werk. Ander het selfs beweer dat die Here reeds gekom het.

Paulus skryf dat daar nog eers baie dinge moet gebeur. Sondige mense sal teen God in opstand kom. Daar sal mense wees wat sal beweer dat hulle self God is. Niemand weet wanneer die Here weer sal kom nie, maar ons as sy kinders sal daardie dag groot vreugde hê wanneer Hy ons kom haal. Ons as gelowiges moet getrou aan die Here bly, totdat Hy kom.

Intussen, so sê Paulus vir die gelowiges in Tessalonika, moet elkeen voortgaan om sy werk te doen, en nie moeg word om goed te doen nie. Dit geld ook vir ons. Ons moet elke dag voluit vir die Here leef, sy wil doen, gehoorsaam aan Hom wees, en nooit ophou om vir Hom te werk nie. Die Here self sal ons dan beloon.

 

Here, U wat weer kom, gee my elke dag die krag om my werk vir U te doen. Help my om nooit daarvoor moeg te word nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.