Dagstukkies met CLF 26 November 2020
November 26, 2020
Vir mans
“Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie” (Kolossense 3:19)
In Genesis lees ons dat God, nadat Hy vir Adam gemaak het, ook vir hom ’n vrou gemaak het wat by hom pas. God het gesien dat ’n man nie alleen kan wees nie. God het hulle so gemaak dat hulle kinders kan kry, sodat die aarde deur mense bewoon en bewerk kan word. Dit was ook God se bedoeling dat hulle vir mekaar moet lief wees.
Ons teksvers sê dat mans hul vrouens moet liefhê en nie die lewe vir hulle moeilik moet maak nie. Ongelukkig hoor ons baie dat mans hul vrouens mishandel. Vrouens word geslaan, verstoot en daar word nie behoorlik vir hulle gesorg nie.
Die Here se groot gebod verwag tog dat ons mekaar moet liefhê. Indien jy getroud is, of eendag wil trou, onthou vandag se boodskap. God verwag dit van mans om hul vrouens lief te hê, te ondersteun en om mooi na hulle te kyk. Ek weet dat mans wat kinders van die Here is, goed vir hul vrouens sal sorg.
Here, help my om alle vrouens met liefde en respek te behandel. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.