Dagstukkies met CLF 25 November 2020
November 25, 2020
Vuil taal
“Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie” (Kolossense 3:8)
Dit maak ’n mens hartseer dat mense so lelik praat. Jesus het self gesê dat dinge wat mens se mond ingaan jou nie onrein maak nie, maar wel dit wat uit jou mond uitgaan! Mense gebruik vloekwoorde sonder dat hulle eers daaroor dink. Ook op televisie hoor ons al meer hoe God se naam misbruik word. As dit vir my en jou, wat God se kinders is, ontstel, hoeveel te meer sal die Here teleurgesteld wees in sulke mense.
Daarom waarsku Paulus die gelowiges om nie vuil taal te gebruik nie. Ek weet dat dit vir jongmense moeilik is om ouer mense tereg te wys as hulle vloek. Soms kan ons maar net vir sulke mense bid. Vra die Here dat die Heilige Gees sulke mense se harte sal verander. Gebed het groot krag, en die Here kan mense se lewens verander om nie meer vuil taal te gebruik nie.
Dankie, Here, dat U my bewaar teen vuil taal. Vergewe my en ook dié mense wat so lelik praat. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.