Dagstukkies met CLF 17 November 2020
November 17, 2020
Naby aan God
“Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus” (Efesiërs 2:13)
Dit is nooit lekker om ver van jou familie of vriende te wees nie. Wanneer kinders klaar is met skool, gaan hulle uit hul ouerhuis om te gaan werk of studeer. Soms moet hulle baie ver weg van hul ouers gaan bly. Hulle verlang baie en mis dan hul ouers se raad en ondersteuning.
Die Bybel leer ons vandag dat wanneer ons ons harte vir die Here gegee het, is ons naby aan God. Voordat ons sy kinders was, het ons ver van God gelewe. Dit is alles moontlik gemaak deur die bloed van Jesus, toe Hy aan die kruis vir ons sondes gesterf het.
Wanneer jy weer verlore en ver van jou ouers af is, onthou net dat jy baie naby aan God is. Jy is net ’n gebed ver van Hom af. Gaan op jou knieë, vertel vir God hoe jy voel, en Hy sal vir jou vrede gee.
Dankie, liewe Heer, dat U my hemelse Vader is, en dat U elke dag so naby my is. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.