Dagstukkies met CLF 21 Junie 2020

Begeer wat reg is

“Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word”

(Matteus 5:6)

Die mens se grootste behoefte is na kos en iets om die drink. Sonder kos en water sal ons nie kan bestaan nie. Wanneer ons genoeg kos het om te eet en iets het om te drink, voel ons gelukkig en tevrede. Daar is baie mense wat honger ly, daarom moet ons baie dankie vir die Here sê dat Hy vir ons sorg.

Jesus weet dat die mens honger en dors sal kry. Daarom gebruik Hy hierdie beeld en sê dat as iemand ook so ’n begeerte het om reg te lewe, sal Hy hom help om so te word. Elkeen sal versadig word wat smag na die goeie en regte dinge.

Ons moet elke dag probeer om die regte dinge te
doen. Wat is die regte pad? Dit is wat die Here veral deur die Bybel vir ons leer. Doen die wil van God, en jy sal vrede hê.

Dankie Here, dat U vir my die regte dinge wil leer. Maak my ’n gehoorsame kind. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 20 Junie 2020

Volg Jesus se voorbeeld

“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang”

(Matteus 5:5)

Vandag leer Jesus vir ons om sagmoedig te wees. Dit beteken om nederig en vriendelik te wees, om nie op ander te trap nie, en om ook vir ander mense om te gee. Jesus self was ’n sagmoedige mens.

Toe Hy op aarde was, het Hy baie mense gehelp en ook mense met mooi woorde aangespreek. Hy het met baie sondaars te doen gekry, maar ook vir hulle het Hy met respek behandel. Selfs die mense wat Hom wou doodmaak, het Hy met ’n sagte stem geantwoord.

 

Genadige Here, vergewe my as ek voorgee wat ek nie is nie. Wys my die regte pad asse­blief. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 19 Junie 2020

God self sal troos

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”

(Matteus 5:4)

Terwyl Jesus die mense geleer het, het Hy baie bemoedigende woorde en gedagtes aan hulle oorgedra. Vandag gaan ons kyk wat Jesus gesê het oor mense wat hartseer en bedroef is.

Elke mens op aarde, ook ek en jy, was al hartseer of het getreur oor iets wat ons ongelukkig maak. Miskien het jy al getreur oor ’n ouer of familielid wat oorlede is of wat baie siek is. Soms treur ons omdat daar nie werk vir ons is nie. Dan is daar nie geld vir kos en klere nie. Maar dit is veral die treur oor ons sondes en tekortkominge wat Jesus hier bedoel.

Gelukkig het ons ’n Here wat sien wanneer ons oor die stukkendheid van ons wêreld en ons lewe treur. Hy self sal ons vergewe en troos sodat dit weer met ons goed kan gaan, soos ons teksvers ons leer.

Gee jou hart vir die Here, en Hy sal jou help sodat dit weer goed met jou sal gaan. God self sal jou troos.

 

Dierbare Here, baie dankie vir al die baie kere dat U my getroos het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 18 Junie 2020

Gelukkig is jy

“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel”

(Matteus 5:3)

Jesus het baie mooi dinge gedoen toe Hy op aarde was. Hy het baie mense gesond gemaak en die mense van God vertel. Mense het van ver af na Hom gekom om sy bood­skap te hoor. Op ’n dag was daar weer baie mense en Hy het teen die berg opgegaan en hulle begin leer. Daarom word dit sy bergpreek genoem.

Hy het begin deur te sê dat iemand wat weet dat God die enigste een is wat Hom kan help, baie gelukkig is. Dit is die tipe mense wie se toekoms die hemel is.

Ek en jy moet elke dag besef dat ons God nodig het. Dit is net Hy wat die hemel vir ons oopmaak. Sonder Hom kan ons niks doen nie. Vra elke dag vir die Here om jou by te staan en vir jou te sorg. Al is ons sterk en gesond, en al het ons baie geld, sonder God sal ons niks wees nie.

 

Here, leer ook vir my om net op U te vertrou. Dankie vir al die mooi dinge wat ek van U ontvang. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 17 Junie 2020

Volg vir Jesus

“Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg” (Matteus 4:20)

Ná sy doop het Jesus begin met sy werk. Hy het ook dissipels gekies om saam met Hom te wees.

Eendag het Hy langs die see van Galilea gestap en twee broers gesien wat visvang. Hy sê toe vir hulle om saam met Hom te kom, en Hy sal hulle vissers van mense maak. Dit beteken dat hulle mense moes oorreed om Jesus te volg. Later het Jesus nog twee anders broers gesien wat visnette regmaak saam met hul pa. Ook vir hulle het Jesus geroep om Hom te volg. Hulle het dadelik hul pa verlaat en Jesus gevolg.

Soos Jesus mense geroep het om God se werk te doen, so roep Hy ook vir jou en my om hier op aarde vir Hom te werk. As God jou roep, moenie twyfel nie, gaan en vertel vir mense dat Jesus die Verlosser is. Ek en jy ken vir Jesus, maar daar is nog baie mense wat nog nie aan God behoort nie. Kom ons vertel almal van Jesus.

 

Here Jesus, help my om vir ander van U te vertel. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 16 Junie 2020

Versoekings

“Maar Jesus sê vir hom: ‘Gaan weg, Satan, want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien’ ”

(Matteus 4:10)

Omdat Jesus ook ’n mens was, het die duiwel Hom probeer weglei van God af. Jesus was in die woestyn en het begin honger word. Die duiwel het gesê dat as Jesus die Seun van God is, Hy die klippe in brood kan verander. Jesus se antwoord was dat ’n mens nie net van brood alleen kan lewe nie, maar ook die Woord van God nodig het. Die duiwel het toe aan Jesus gesê dat as Hy hom aanbid, hy die koninkryke van die aarde aan Jesus sou gee. Maar Jesus het die versoeking weerstaan en gesê dat net God aanbid mag word.

Soos Jesus vir ons gewys het hoe om versoekings te weerstaan, so moet ons ook sterk wees om die versoekings wat oor ons pad kom, te weerstaan. Vra net die Here om jou in sulke tye te help.

 

Here, help my asseblief om die versoekings wat elke dag oor my pad kom, te weerstaan. Amen

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

 

Dagstukkies met CLF 15 Junie 2020

Jesus word gedoop

“Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: ‘Dit is My geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My’ ”

(Matteus 3:17)

In ons vorige stukkie het ons gelees dat Johannes die Doper mense wat hul sondes bely het, in die Jordaanrivier gedoop het. Ook Jesus het na hom toe gegaan om gedoop te word.

Jesus was sonder sonde, en hoef eintlik nie gedoop te word nie. Johannes het ook so gedink en gesê dat Jesus eintlik vir hom moes doop, maar Jesus het daarop aangedring dat Johannes Hom moes doop, want dit was die wil van God. Jesus was ’n gewone mens toe Hy op aarde was, daarom het Hy Hom laat doop.

Die doop in ons lewens vandag is ook baie belangrik. Wanneer ons ons kinders laat doop, neem God hulle aan as sy kinders. Daarmee neem ons dan ’n groot verantwoordelikheid om hulle vir God groot te maak. Vra maar net elke dag vir die Here hoe om jou kinders na Hom toe te lei.

 

Hemelse Vader, dankie dat ek gedoop is en dat ek nou u kind is. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 14 Junie 2020

Johannes die Doper

“Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is”

(Matteus 3:8)

Johannes die Doper is deur God gestuur om die pad vir Jesus voor te berei. Hy het die mense vertel van Jesus se koms en dat hulle hulle moes bekeer. Baie mense het na hom toe gekom en hulle sondes bely. Dan is hulle deur hom in die Jordaanrivier gedoop. Daar het ook Fariseërs en Sadduseërs na hom toe gekom. Hulle het gedink dat hulle goeie mense was, maar eintlik was hulle skynheilig. Dit is daarom dat Johannes die Doper vir hulle gesê het dat hulle optrede en dade moet bewys dat hulle opreg is. Jesus wat kom sal deur hulle sien en sal hulle oordeel volgens hul dade.

Ek en jy wat sê dat ons kinders van God is, moet so lewe dat ander kan sien ons behoort aan God. Dra goeie vrugte soos die Here dit van jou verwag.

 

Heilige Here, vergewe my as ek voorgee wat ek nie is nie. Wys my die regte pad asse­blief. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 13 Junie 2020

God beskerm

“Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan”

(Matteus 2:21)

Tydens Jesus se geboorte het koning Herodes die Grote die land regeer. Toe hy van Jesus se geboorte gehoor het, was hy bang en jaloers dat Jesus ’n groter koning as hy sou wees. Hy besluit toe dat in Bethlehem alle seuntjies van twee jaar en jonger dood­ge­maak moes word. God het egter vir Josef in ’n droom gewaarsku, en hulle het na Egipte toe gevlug.

Na die dood van daardie Herodes het Josef, Maria en Jesus teruggegaan en in die dorp Nasaret gaan woon. Dit was in God se plan dat Jesus moes grootword en die mense moes leer hoe om kinders van die Here te word.

Soos God vir Jesus beskerm het, so beskerm Hy ons ook elke dag. God het ’n plan met ons lewens. Daarom sal God ons leer en die pad wys wat ons moet gaan. Vra net elke dag dat die Here jou moet wys hoe om te lewe soos Hy dit wil hê.

 

Here, dankie dat U ’n plan vir my lewe het. Beskerm vir my waar ek ook al mag gaan. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 12 Junie 2020

Die groot ster

“Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly”

(Matteus 2:10)

Jesus is in ’n stal in Betlehem gebore. Met Jesus se geboorte het daar ’n groot ster helder in die lug geskyn. Daar was sterrekykers van ’n ver land wat die ster gevolg het, en eindelik het dit hulle na die baba gelei. Daar het hulle vir Jesus en Maria, sy ma, gekry. Toe hulle Jesus sien, was hulle baie bly.

Ons ken Jesus, maar om Hom te kan sien, sal nog meer wonderlik wees. As ons hier op aarde leef volgens God se wil, Hom gehoorsaam en glo dat Jesus ons Verlos­ser is, sal ons eendag saam met Hom in die hemel wees.

Dit is die moeite werd om God se kind te wees en elke dag vir Hom te lewe. Om Jesus te kan sien sal wonderlik wees.

 

Dankie vir die ster van Betlehem, Here. Help my om so te lewe dat ek vir Jesus sal sien. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.