Dagstukkies met CLF 13 Junie 2020
Junie 13, 2020
God beskerm
“Josef het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en na die land van Israel toe teruggegaan”
(Matteus 2:21)
Tydens Jesus se geboorte het koning Herodes die Grote die land regeer. Toe hy van Jesus se geboorte gehoor het, was hy bang en jaloers dat Jesus ’n groter koning as hy sou wees. Hy besluit toe dat in Bethlehem alle seuntjies van twee jaar en jonger doodgemaak moes word. God het egter vir Josef in ’n droom gewaarsku, en hulle het na Egipte toe gevlug.
Na die dood van daardie Herodes het Josef, Maria en Jesus teruggegaan en in die dorp Nasaret gaan woon. Dit was in God se plan dat Jesus moes grootword en die mense moes leer hoe om kinders van die Here te word.
Soos God vir Jesus beskerm het, so beskerm Hy ons ook elke dag. God het ’n plan met ons lewens. Daarom sal God ons leer en die pad wys wat ons moet gaan. Vra net elke dag dat die Here jou moet wys hoe om te lewe soos Hy dit wil hê.
Here, dankie dat U ’n plan vir my lewe het. Beskerm vir my waar ek ook al mag gaan. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.