Dagstukkies met CLF 19 Junie 2020

Junie 19, 2020

God self sal troos

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”

(Matteus 5:4)

Terwyl Jesus die mense geleer het, het Hy baie bemoedigende woorde en gedagtes aan hulle oorgedra. Vandag gaan ons kyk wat Jesus gesê het oor mense wat hartseer en bedroef is.

Elke mens op aarde, ook ek en jy, was al hartseer of het getreur oor iets wat ons ongelukkig maak. Miskien het jy al getreur oor ’n ouer of familielid wat oorlede is of wat baie siek is. Soms treur ons omdat daar nie werk vir ons is nie. Dan is daar nie geld vir kos en klere nie. Maar dit is veral die treur oor ons sondes en tekortkominge wat Jesus hier bedoel.

Gelukkig het ons ’n Here wat sien wanneer ons oor die stukkendheid van ons wêreld en ons lewe treur. Hy self sal ons vergewe en troos sodat dit weer met ons goed kan gaan, soos ons teksvers ons leer.

Gee jou hart vir die Here, en Hy sal jou help sodat dit weer goed met jou sal gaan. God self sal jou troos.

 

Dierbare Here, baie dankie vir al die baie kere dat U my getroos het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.