Dagstukkies met CLF 15 Junie 2020
Junie 15, 2020
Jesus word gedoop
“Daar was ook ’n stem uit die hemel wat gesê het: ‘Dit is My geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My’ ”
(Matteus 3:17)
In ons vorige stukkie het ons gelees dat Johannes die Doper mense wat hul sondes bely het, in die Jordaanrivier gedoop het. Ook Jesus het na hom toe gegaan om gedoop te word.
Jesus was sonder sonde, en hoef eintlik nie gedoop te word nie. Johannes het ook so gedink en gesê dat Jesus eintlik vir hom moes doop, maar Jesus het daarop aangedring dat Johannes Hom moes doop, want dit was die wil van God. Jesus was ’n gewone mens toe Hy op aarde was, daarom het Hy Hom laat doop.
Die doop in ons lewens vandag is ook baie belangrik. Wanneer ons ons kinders laat doop, neem God hulle aan as sy kinders. Daarmee neem ons dan ’n groot verantwoordelikheid om hulle vir God groot te maak. Vra maar net elke dag vir die Here hoe om jou kinders na Hom toe te lei.
Hemelse Vader, dankie dat ek gedoop is en dat ek nou u kind is. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.