Dagstukkies met CLF 8 Desember 2020

Desember 8, 2020

Jesus verstaan

“Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Hebreërs 2:18)

Die duiwel is elke dag besig om God se kinders op die verkeerde pad te probeer lei. Hy doen sy bes om mense
te laat dink hoe lekker en goed die sonde is. Selfs in die kerk op Sondag lei hy mense se aandag weg van God se Woord af. Elke mens word die een of ander tyd deur
die duiwel versoek.

Ons lees in Matteus 4:1-11 hoe Jesus self deur
die duiwel versoek is. Jesus was egter getrou aan sy
Vader in die hemel, en het elke versoeking weerstaan. Op baie ander maniere het Jesus ook gely, meer as ons
gewone mense.

Omdat Jesus self versoek is, verstaan Hy wanneer ons as swakke mense versoek word. Wanneer jy weer in versoeking kom, vra net dat die Here jou moet krag gee om staande te bly. Hy ken jou hart en verstaan jou omstandighede. Onthou, God wil jou beskerm teen die duiwel, want Hy het jou lief.

 

Here Jesus, so baie keer word ek versoek. Vat asseblief my hand en lei my op die regte pad. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.