Dagstukkies met CLF 22 Desember 2020

Die waarheid

“Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe” (3 Johannes 3)

Hierdie derde brief van die apostel Johannes het hy aan Gaius geskryf. Gaius was ’n kerkleier wat volgens die wil van God gelewe het. Johannes waardeer sy hulp aan ander mede­gelo­wiges. Johannes was veral bly oor die goeie berigte oor Gaius se stand­vas­tigheid. Hy het nie alleen vasgehou aan die waarheid nie, maar het dit uitgelewe.

So doen dit vandag ook ons harte goed wanneer ons hoor van iemand wat eerlik en opreg is, want ons hoor van so baie oneerlike en skelm mense. Ons kan dankbaar wees vir elke mens wat die goeie doen.

Soms voel ons die duiwel is los hier op aarde. Maar gelukkig weet ons dat die Here in beheer is van alles. God is groter en sterker as die duiwel, en Hy beskerm sy kinders, maar ook sy hele skepping.

 

Sterke Here, help my om altyd eerlik en opreg op te tree. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 21 Desember 2020

Wat is liefde?

“En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe.

Soos julle van die begin af gehoor het,

is dit sy gebod dat julle in die liefde moet lewe”(2 Johannes 6)

Reeds in Januarie het ons die Tien Gebooie behandel. Ons het na hulle almal gekyk, en ook die samevatting daarvan. Daar het ons gesien dat ons eerstens God bo alles moet liefhê, en tweedens moet ons ons naaste liefhê soos onsself. Alles gaan oor die liefde.

Die Here weet dat ons mense nie altyd in liefde met mekaar lewe nie. Daarom het Hy vir ons die Tien Gebooie gegee. Nou kan ons vandag se teksvers verstaan. As ons sy gebooie nakom, dan lewe ons in liefde, en dit is soos God dit wil hê. God het ons eerste liefgehad, Hy het ons só lief dat Hy gewillig was om mens te word, en as Jesus Christus vir ons sondes te kom sterf.

 

Liefdevolle Jesus, dankie dat U so lief is vir my, leer my om elke dag in liefde met ander te lewe. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 20 Desember 2020

Weet dit

“Hierdie brief skrywe ek vir julle sodat julle kan weet
dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo” (1 Johannes 5:13)

Ons wat kinders van die Here is, het net een doel in die lewe, en dit is om God te ver­heer­lik. En dan hoop ons ook op die ewige lewe. Jesus het vir ons sondes gesterf, en as ons onsself aan Hom oorgee, belowe Hy vir ons die ewige lewe saam met Hom. Soms kry ons as Christene swaar om staande te bly, maar ons vertrou op God se hulp, om dan eendag daardie wonderlike prys te kan kry.

Hier skryf Johannes dat ons wat in die Seun van God glo alreeds die ewige lewe het. Wat ’n wonderlike gedagte! Nou kan ek en jy met die lewe voortgaan met die wete dat ons klaar die prys ontvang het. Ons kan elke dag aanpak met die wete dat ons reeds die nuwe lewe ontvang het, en daarom God loof en prys vir sy geskenk. Wanneer jy weer bid, sê dankie vir die Here vir sy groot geskenk.

 

Liewe Heer, baie dankie dat ek vandag gehoor het dat ek al klaar die ewige lewe ont­vang het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 19 Desember 2020

Wys jou liefde

“Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid” (1 Johannes 3:18)

Die grootste opdrag van God aan ons gaan oor liefde. Eerstens moet ons God liefhê, en tweedens moet ons
liefde aan almal bewys met wie ons te doen kry. Die
Bybel praat van ons naaste. Wie is ons naaste? Dit is elke mens in jou lewe wat jy ontmoet, of mee te doen kry. So is selfs die man wat die strate vee waar jy verbystap jou naaste. Groet hom vriendelik. Die Here sien dit raak, en so is jy ’n ware kind van God.

Ons teksvers sê dat ons nie net van liefde moet práát nie. Nee, ons moet deur dit wat ons doen bewys dat ons liefde in ons harte het. Groet mense opreg, help mense wat sukkel, en gee aan die armes iets om te eet. Al ken jy nie die ou tannie wat swaar dra aan haar pakkies nie, help haar dra, en sorg dat sy veilig oor die straat kom. Die Here soek mense op aarde wat liefde aan ander bewys. Dit is tekens van sy koninkryk.

 

Liefdevolle Here, wys vir my waar ek ander mense in liefde kan bystaan. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 18 Desember 2020

Hou vas aan God se Woord

“Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak”  (1 Johannes 3:7-8)

Deur al die eeue heen was daar mense wat die gelowiges mislei het. Reeds in Johannes se tyd het sommige al gesê dat Jesus, die Seun van God, nie regtig mens geword het nie. Hulle het selfs ook beweer dat dit nie so nodig was om die sonde te laat staan nie, want dit is die geestelike dinge wat belangrik is.

Gelukkig weet ek en jy dat Jesus ’n ware mens was, en dat Hy werklik die Seun van God is wat vir ons sondes kom sterf het. Ons verstaan ook dat dit onmoontlik is om tevrede te wees met die sonde as God die sonde so ernstig geneem het. Dit is die duiwel wat wil hê dat ons aanhou met sondig.

Die Heilige Gees woon in ons harte, en wil ons hier op aarde lei om die regte dinge te glo en doen. Hou vas aan wat die Bybel jou leer, en jy sal die ewige lewe kry.

 

Dierbare Here, dankie dat U ook so baie geduld met my het. Dankie dat ek u kind kan wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 17 Desember 2020

God is geduldig

“Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3:9)

In die tyd toe Petrus hierdie brief geskryf het, was daar mense wat die gelowiges mislei het. Onder andere het hulle gespot met Jesus se wederkoms, en gesê dat dit nie gaan gebeur nie. Hulle was vals leraars wat teen God opgetree het. Petrus pleit egter by die gelowiges om vas te hou aan Jesus soos wat Hy aan hulle verkondig is.

Die gelowiges het al uitgesien na die wederkoms, en hulle kon nie verstaan waar­om dit nog nie gebeur het nie. Petrus skryf vir hulle dat die Here se beloftes vas bly staan, maar dat Hy geduldig en liefdevol wag totdat elke mens die geleentheid gehad het om die Here aan te neem. God wil nie hê dat iemand verlore moet gaan nie. Daar­om moet ek en jy altyd mense uitnooi om die Here aan te neem.

 

Dierbare Here, dankie dat U ook so baie geduld met my het. Dankie dat ek U kind kan wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 16 Desember 2020

Jou naam

“Maar wanneer iemand ly omdat hy ’n Christen is,

moet hy hom nie daaroor skaam nie. Inteendeel, as draer van daardie

naam moet hy God verheerlik”(1 Petrus 4:16)

Ons weet uit die Bybel dat Christene dit nie altyd maklik sal hê nie. In vandag se teksvers lees ons dat as iemand swaarkry omdat hy of sy die Naam van Christus dra, so iemand kan trots wees. Dis ’n voorreg om ’n Christen genoem te word. Die Here het ons uitverkies
om sy kinders te wees.

Ek en jy moet elke dag die Here loof en prys omdat ons die naam Christen het. As ons aan Christus behoort, wag daar vir ons ’n groot beloning aan die einde van ons aardse lewe, die ewige lewe by God in die hemel. Daarom kan ons maar swaarkry en spot verduur, die Here self sal vir ons sorg en daardie wonderlike prys aan ons gee.

 

Dankie, Here, dat my naam ook Christen kan wees. Help my om daardie naam waardig te wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

 

Dagstukkies met CLF 15 Desember 2020

Jesus ons voorbeeld

“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie” (1 Petrus 2:22)

Elke kind van die Here wil graag soos Jesus leef. Toe Jesus op aarde was, het Hy net goed aan almal gedoen. Hy was lief vir elkeen, selfs vir sondaars. En nooit het hy ’n leuen vertel nie.

Ons wil so graag Jesus se voorbeeld volg. Maar tog doen ons dikwels nog verkeer­de dinge. Ons vertel maklik ’n onwaarheid wanneer ons in die moeilikheid is. Gelukkig ken die Here ons, en het ons lief. Hy weet waar ons swakhede is, en verstaan hoekom ons soms nog sondig.

As ons nederig na Jesus gaan en ons sondes bely, sal Hy vergewe, want ons bly sy kinders. Toe ek en jy klein was, was ons ook soms stout. Ons ouers het ons gestraf of ’n pak slae gegee, maar ons het hul kinders gebly.

Sê elke dag vir Jesus dankie dat Hy so ’n goeie voorbeeld vir jou is.

 

Dankie Here, dat ek vir U ken, en in U voetspore kan loop. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 14 Desember 2020

Hoe om te bid

“As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig” (Jakobus 4:3)

Om te kan bid, is ’n wonderlike voorreg wat die Here aan ons gegee het. Deur te bid, praat ons met die Here en kan ons al ons bekommernisse en begeertes aan Hom oordra. Die Here is so lief vir ons nietige mense dat Hy altyd daar is om na ons te luister. Dit maak nie saak of dit dag of nag is nie, as ons bid, hoor die Here wat ons vra.

Tog lees ons in Jakobus dat ons dikwels nie ontvang wat ons vra nie omdat ons verkeerd bid. Ons bid net selfsugtige gebede vir onsself, en vra net dat die Here vir ons moet gee wat ons wil hê.

Wanneer ons bid moet ons allereers vir God loof en prys vir al sy goedheid aan ons bewys. Hy het vir ons sondes gesterf sonder dat ons dit verdien het. Maar ons moet ook vir ander mense bid wat minder bevoorreg is. Heel laaste kan ons vir onsself bid.

 

Here Jesus, leer my hoe om te bid sodat ek kan ontvang wat ek van U vra. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.

Dagstukkies met CLF 13 Desember 2020

Versoekings

“Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet” (Jakobus 1:12)

Soms maak ons die verkeerde keuses wanneer daar versoekings oor ons pad kom, en dan gaan dit sleg met ons. Dan dink ons maklik dat dit die Here is wat ons straf. Nee, die Here straf ons nie met versoekings nie. Hy wil hê ons moet die toets slaag sodat ons sterker kan wees.

Wanneer ons versoek word om die verkeerde dinge te doen, moet ons so naby aan God wees dat ons die regte besluit sal neem. Ons teksvers sê dat ons die prys sal ontvang as ons vir God kies. Die ewige lewe is die prys vir God se kinders.

Jakobus sê dat mense wat nee kan sê vir versoekings gelukkig is. Dink net hoe baie mense is daar wat die versoekings nie kan of wil weerstaan nie, en daarna baie ongelukkig is.

 

Dierbare Here, help my om altyd die regte keuse te maak. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.