Dagstukkies met CLF 5 Desember 2020
Desember 5, 2020
Verdra onreg
“’n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel, hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wees
wat onreg kan dra” (2 Timoteus 2:24)
In die Bybel is daar baie riglyne oor hoe ons as kinders van die Here moet lewe en optree teenoor ander mense. Veral in die briewe van Paulus kry ons goeie raad oor ons lewe met ander mense.
Vandag se Woord is dat ons vriendelik moet wees en nie rusie moet maak nie. Wat veral belangrik is, is dat ’n kind van die Here onreg moet kan verduur. Met ander woorde, as iemand teenoor jou onregverdig optree, moet jy altyd kalm bly. Weet dat die Here dit raaksien en met jou sal wees. Baie Christene moes al ernstige onreg verduur in hierdie wêreld van ons.
Wanneer jy weer gespot word of onregverdig behandel word omdat jy ’n kind van die Here is, onthou dat die Here dit weet en alles raaksien. Hyself sal die mense wat jou te na kom oordeel volgens hulle dade.
Help my Here om getrou aan U te bly, al word ek onregverdig behandel. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.