Dagstukkies met CLF 15 Desember 2020
Desember 15, 2020
Jesus ons voorbeeld
“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit ’n leuen gekom nie” (1 Petrus 2:22)
Elke kind van die Here wil graag soos Jesus leef. Toe Jesus op aarde was, het Hy net goed aan almal gedoen. Hy was lief vir elkeen, selfs vir sondaars. En nooit het hy ’n leuen vertel nie.
Ons wil so graag Jesus se voorbeeld volg. Maar tog doen ons dikwels nog verkeerde dinge. Ons vertel maklik ’n onwaarheid wanneer ons in die moeilikheid is. Gelukkig ken die Here ons, en het ons lief. Hy weet waar ons swakhede is, en verstaan hoekom ons soms nog sondig.
As ons nederig na Jesus gaan en ons sondes bely, sal Hy vergewe, want ons bly sy kinders. Toe ek en jy klein was, was ons ook soms stout. Ons ouers het ons gestraf of ’n pak slae gegee, maar ons het hul kinders gebly.
Sê elke dag vir Jesus dankie dat Hy so ’n goeie voorbeeld vir jou is.
Dankie Here, dat ek vir U ken, en in U voetspore kan loop. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.