Dagstukkies met CLF 21 Desember 2020
Desember 21, 2020
Wat is liefde?
“En liefde beteken dat ons volgens die gebooie van God lewe.
Soos julle van die begin af gehoor het,
is dit sy gebod dat julle in die liefde moet lewe”(2 Johannes 6)
Reeds in Januarie het ons die Tien Gebooie behandel. Ons het na hulle almal gekyk, en ook die samevatting daarvan. Daar het ons gesien dat ons eerstens God bo alles moet liefhê, en tweedens moet ons ons naaste liefhê soos onsself. Alles gaan oor die liefde.
Die Here weet dat ons mense nie altyd in liefde met mekaar lewe nie. Daarom het Hy vir ons die Tien Gebooie gegee. Nou kan ons vandag se teksvers verstaan. As ons sy gebooie nakom, dan lewe ons in liefde, en dit is soos God dit wil hê. God het ons eerste liefgehad, Hy het ons só lief dat Hy gewillig was om mens te word, en as Jesus Christus vir ons sondes te kom sterf.
Liefdevolle Jesus, dankie dat U so lief is vir my, leer my om elke dag in liefde met ander te lewe. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.