Dagstukkies met CLF 22 Desember 2020
Desember 22, 2020
Die waarheid
“Ek was baie bly toe hier medegelowiges kom en van jou trou aan die waarheid vertel, hoe jy in die waarheid lewe” (3 Johannes 3)
Hierdie derde brief van die apostel Johannes het hy aan Gaius geskryf. Gaius was ’n kerkleier wat volgens die wil van God gelewe het. Johannes waardeer sy hulp aan ander medegelowiges. Johannes was veral bly oor die goeie berigte oor Gaius se standvastigheid. Hy het nie alleen vasgehou aan die waarheid nie, maar het dit uitgelewe.
So doen dit vandag ook ons harte goed wanneer ons hoor van iemand wat eerlik en opreg is, want ons hoor van so baie oneerlike en skelm mense. Ons kan dankbaar wees vir elke mens wat die goeie doen.
Soms voel ons die duiwel is los hier op aarde. Maar gelukkig weet ons dat die Here in beheer is van alles. God is groter en sterker as die duiwel, en Hy beskerm sy kinders, maar ook sy hele skepping.
Sterke Here, help my om altyd eerlik en opreg op te tree. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.