Dagstukkies met CLF 18 Desember 2020

Desember 18, 2020

Hou vas aan God se Woord

“Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak”  (1 Johannes 3:7-8)

Deur al die eeue heen was daar mense wat die gelowiges mislei het. Reeds in Johannes se tyd het sommige al gesê dat Jesus, die Seun van God, nie regtig mens geword het nie. Hulle het selfs ook beweer dat dit nie so nodig was om die sonde te laat staan nie, want dit is die geestelike dinge wat belangrik is.

Gelukkig weet ek en jy dat Jesus ’n ware mens was, en dat Hy werklik die Seun van God is wat vir ons sondes kom sterf het. Ons verstaan ook dat dit onmoontlik is om tevrede te wees met die sonde as God die sonde so ernstig geneem het. Dit is die duiwel wat wil hê dat ons aanhou met sondig.

Die Heilige Gees woon in ons harte, en wil ons hier op aarde lei om die regte dinge te glo en doen. Hou vas aan wat die Bybel jou leer, en jy sal die ewige lewe kry.

 

Dierbare Here, dankie dat U ook so baie geduld met my het. Dankie dat ek u kind kan wees. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.