Energieke Eunice skryf oor #Rykdom vir Dagstukkies met…

Junie 2, 2019

Adrie Jurgensen

Sy het 1152 vriende op FaceBook, maar is eintlik meer ‘n Insta-meisie. Sy is nie vol fiemies nie, het baie energie, is passievol om mense te help, is lief vir lag, kuier, wiskey en haar ouers! Sy geniet ‘n mooi foto, ‘n opregte hart en is iemand wat haar man kan staan en haar sê kan sê. Meer as dit alles, is sy ‘n gewillige kind van God, iemand wat haarself beskikbaarstel om te loop waar Hy haar nodig het, te dien waar en wanneer Hy vra en getrou te bly aan Hom ongeag gewildheid of groepsdruk.

Eunice Stoltz se inleiding klink dalk asof sy nie meer ‘vandag-se-kind’ is nie, maar die oud-leerling van C & N Sekondêre Meisieskool Oranje, Bloemfontein, het in 2008 gematrikuleer.  Sy het op 1 April vanjaar die rol van Skakelbeampte by RadioTygerberg 104fm oorgeneem, nadat sy begin Oktober 2016 as Nuushoof by Radio Tygerberg aangestel is. Hierdie nuwe uitdaging het sy met beide hande aangegryp. Gedurende die afgelope twee maande het sy reeds verskeie uitreikprojekte in die gemeenskap geïnisieer, gereël en bygewoon. Sy was onder andere die eerste verslaggewer wat oor Oupa Fredie Blom, kort voor sy 115de verjaarsdag verslag gedoen het en sy was ook saam met haar voormalige mede-aanbieder Gerald Petersen een van die personeel wat op die voorpunt van die Wupperthal-uitreik betrokke was.

In 2016 het die oud-Richardbaaise meisie, by NWU Pukke afgestudeer en onder meer in Dokumentêre Videos, Uitvoerende Kunste, Kommunikasiekunde en Tale gekwalifiseer. Sy was ook op die nuusredaksie van PUKfm 93.6 waar sy haar liefde vir radio ontdek het. Gedurende hierdie tyd het sy ook haar lyf model gehou en was sy by Topco Modelagentskap betrokke.

Eunice se gunsteling aanhaling is:  Dare to dream.

En dit is iets wat sy met oorgawe doen. Sy was onlangs in Libanon as deel van InContext Internationaal se strategiese sendinguitreik waar hulle onder meer vlugtelingskampe en sendingstasies besoek het.

Sy is hierdie week die skrywer van ons rubriek Dagstukkies met…  Haar tema is #Rykdom. Lees dit, deel dit en bid vir Eunice vir wysheid, krag (en selfs meer energie!) in haar nuwe rol.