Wayne de Vos: vreesloos vir Christus
Augustus 4, 2019
“Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.”
Jesaja 43:1 is , skrywer van die week se Dagstukkies met…rubriek, se gunsteling vers!
En vir die wat die voorreg het om Saterdae in die geselskap van Wayne op Radio Tygerberg 104fm te kuier, of die wat hom as pastoor op Sondae of jeugpastoor in die week by verskeie skole sien, is hierdie vers deel van dié jong man se DNA.
Jy sal verskoon word as jy dink dat die pastoor nie te lank gelede op die skoolbanke van Hoërskool De Kuilen was nie. Maar “looks can be deceiving” kom jy baie vining agter wanneer jy met Wayne te doen kry. Hy is agtermekaar en vier in November sy 28ste verjaarsdag! Hy is iemand wat jy kan vertrou en iemand wat jou keer op keer heerlik verras met sy bereidwilligheid, sy kreatiwiteit en sy heerlike sin vir humor.
Volgens Wayne, wat Saterdae van 15:00 tot 18:00 agter die mikrofoon inskuif, het radio hom gekies, maar het hy baie vining sy hart op dié medium verloor. Sy passie vir die Woord en Kaapstad is amper tasbaar. “My droom vir die stad is om te sien dat inwoners tot die volheid sal kom waarvoor God ons geroep en geskape het. Om te sien hoe mense oor alle grense -rasse, kulture, ouderdomme, “klasse” en denominasies – sal saam staan en werk as ‘n eenheid om God se Koninkryk te vestig op aarde net soos wat dit is in die hemel.” Sy gunsteling deel van sy program is dan ook #KaapseKlanke waar hy onderhoude met plaaslike Kaapse kunstenaars doen.
Wayne is getroud met Chantelle en die paar het twee pragtige blondekopdogtertjies, Mila en Emma wat hul jonk hou. Chantelle is saam met Wayne in die bediening by die Vriend van God Gemeente (AGS Goodwood) en skryf die mooiste musiek.
As dit by musiek kom speel Wayne graag klawerbord en hou veral daarvan om saam met Chantelle die Here te aanbid deur middel van musiek.
En hoewel Wayne net oor naweke op lug is, is hy baie betrokke agter die skerms. Binnekort is hy weer deel van die bestuurspan van die gevreesde “VreesLOOS 2019” wat Radio Tygerberg 104fm in samewerking met Tygervallei van 3 – 5 Oktober aanbied. Gelukkig vrees Wayne min dinge, want alles van die eet van goggas, om aan grillerige dinge te vat, meer as 24 uur wakker te bly en verskeie Bybelspeletjies te doen is maar net ‘n paar van die items op vanjaar se spyskaart.
Is daar iets waarvoor hierdie jong man bang is? “Wel, bredies, pasta en braaivleis maak sy kniee lam, lag hy. “Dan moet ek weer begin draf. En dit maak my effe bang. Die draf-ding.” En so ken ons hom by die stasie – aan die lag in sy bekende denimblou-hemp, donkerraam bril en netjiese haarstyl. Nie ‘n banghaar op sy kop nie.
Wayne is die week ons skrywer van Dagstukkies met Wayne en sy tema is #Gebed.