‘n Reënboog van seën
Augustus 4, 2019
Deur Elize Parker
Adri Williams, deur wie se visie Projek SOS100 in 2016 gebeur het, haar ouers Johan en Brenda Jacobs by die kruis wat sy geplant het by die ongelukstoneel waar sy destyds ernstig beseer is in ‘n motorongeluk. Elize Parker het die reis met hulle meegemaak.
Haar reënboog van seën
Van die 160 Noord-Kaapse boere wat in 2016 voer ontvang het tydens die Radio Tygerberg 104fm SOS 100-uitreik, is nog 160 steeds aan die boer ten spyte van die feit dat die uitmergelende droogte van die afgelope vyf jaar hul kuddes uitgedun het en hul bankrekenings leeg gemaak het.
Die syfer is wel ‘n troos vir sakevrou Adri Williams van Khayalitsha Cookies in Kaapstad wat met die projek ook haar staal gewys het as raakvatter om voer op plase in Noord-Kaap distrikte te kry by boere wat werklik nood gehad het.
Ek was onlangs saam met Adri en haar ouers op ‘n pelgrimstog, nie net na van die boere in die Hantam en die Hoogland-Karoo wat nou nog swaarder kry nie, maar ook op ‘n persoonlike binne-reis vir die dinamiese en veelsydige vrou.
Op die pad tussen Williston en Carnarvon het Adri se motor se band destyds gedurende die uitreike gebars. Sy was in ‘n lewensveranderende ongeluk toe die kar ses keer getol het en twintig meter ver van die pad en in die bossie veld as ‘n wrak tot ruste gekom het. Saam met haar was omroeper Gerald Petersen van Radio Tygerberg – toe nog by Media24 saam met Adri as fotograaf. Hy het ook ernstige beserings opgedoen.
Dit het drie ure geneem vir ‘n boer en ‘n span om haar uit die wrak te kry en na ‘n senutergende rit met ‘n ambulans, is Adri in ‘n hospitaal opgeneem waar die plaaslike mediese personeel nie haar ernstige beserings kon aanspreek nie. Haar arms was sleg gebreek en haar lewenslig het flou gebrand na die drie ure in die wrak op ’n dag wat dit buite 42 grade warm was.
Na vele operasies in verskeie hospitale oor drie jaar en nadat sy met moed en durf weer haar arms moes leer gebruik, bestuur sy vandag die motor na die plek waar die boer wat haar destyds gehelp het, Keith Coetzee van Skipperskloof, met ‘n sak teen die draad sou aandui presies waar die ongeluk gebeur het. Hier wil sy ‘n kruis oprig om die Here te bedank dat Hy haar en Gerald se lewens gespaar het.
Reeds vroeg op die pad anderkant Calvinia boog ‘n halwe reënboog teen die horison en ons stop om die kleurboog in hierdie droë wêreld te kiek. ‘n Vreemde verskynsel in ‘n omgewing wat geen reën vir maande gesien het nie. Skielik, voel ek dit aan.
Hier is ‘n belofte wat wag…
Veel later, na ‘n wye omdraai in Carnarvon, bel Adri vir Keith want die wit sak teen die draad, die teken waarop ons bedag moet wees, is nêrens te siene nie. Ons val weer in die pad. Toe, met Keith wat aan die een kant van die pad staan waar die ongeluk was, kyk ons op. Vir ‘n flitsoomblik, sien ons weer ‘n reënboog aan die ander kant van die pad.
Vir Adri is dit die belofte waarna sy so lankal gesoek het. Sy spel dit half oorbluf uit: “Die Here sê dit gaan nie weer gebeur nie.”
Met die gerusstelling in haar hart, bring sy saam met haar pa Johan, ma Brenda en Keith die houtkruis wat al die pad van Kaapstad saamgebring is, in die veld soos ‘n baken aan. Van alle kante dra ons klippe aan om die seker te maak dit bly ferm staan.
Toe ons terugstaan na ‘n gebed, besef ons die klipaltaar dra die dankbaarheidswense van sovele: Adri se eggenoot en die twee dogters tuis, haar personeel in haar fabriek, haar ouers en haar uitgebreide gesins- en familiekring.
Ons kyk op, maar die reënboog van vroeër is lankal nie meer oor die Karoolandskap te siene nie. Maar die belofte staan wel. Adri gryp dit met hart en siel aan toe sy met meer selfvertroue weer agter die wiel inskuif, en net vir ‘n oomblik na die doringdraad kyk waar ons deurgeklim het na die toneel waar haar lewe vir ewig verander het.
Haar glimlag breek deur haar trane. Sy het vele van die antwoorde wat sy gesoek het, hier tussen bossies en bruin Karooklippe gevind.