Genoeg is Genoeg (Trauma)
September 16, 2019
#Genoeg is Genoeg (TRAUMA)
Deel 2: In Johannes 11:35 lees ons:
Jesus kon sy trane nie meer keer nie,Hy het gehuil.
Ek dink Jesus huil oor Suid-Afrika. Oor wat ons, as ‘n sogenaamde Christenland toelaat om te gebeur. Die koerantopskrifte is vervuil met opskrifte van moord, verkragting, ouers wat kinders vermoor, huurmoorde, plaasmoorde, kindermishandeling, mensehandel. Dan praat ek nie eers van korrupsie, vreemdelingehaat, vandalisme, brandstigting, die hemelhoë egskeidingsyfer, huwelikspare wat mekaar verneuk, verneder en verraai en diefstal nie.
Natuurrampe soos hierdie ongenadige droogte, orkane, vloede en verwoestende brande skets wêreldwyd ook nie ‘n positiewe prentjie nie. Mense is bang en beleef ongekende angs, vrees en trauma.
Die Woord maak dit baie duidelik in 2 Timoteus 1: 7dat God ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie. Dit is natuurlik maklik om ‘n versies aan te haal indien jy nie tans in so ‘n situasie is nie. En deur hierdie vers aan te haal, mag ons nie die baie werklike emosies en gevare wat mense beleef, afmaak nie.
In September wil Radio Tygerberg 104fm die #ROOIverskil wees en maak in die Kaapse Skiereiland. Ons het hande gevat met die organisasie 1000 Women Trust wat daarop fokus om vroue wat in lewensgevaarlike omstandighede verkeer met ‘n praktiese uitkoms te bemagtig of hul deur die proses te help indien daar reeds ‘n traumatise gebeurtenis plaasgevind het. Die 1000 Women Trust help ook om die persone wat rondom daardie persoon is, toe te rus met die nodige hulpmiddels om haar (en moontlik haar kinders) reg te ondersteun. Dit is ‘n veilige plek vir vroue.
Twee gratis opleidingsessies word in September (14 & 28) by ons kantore in Parow, asook in Kommetjie en Somerset-Wes aangebied waar Trauma Steun-opleiding aangebied word.
WAT IS TRAUMA
Die woord trauma kom van die Griekse woord wat wond beteken. Trauma is die verlammende gevoel of gevolg wat ervaar word nadat iemand deur ‘n oorweldigende tyd of lewensbedreigende situasie, hetsy fisies of emosioneel, is. Dit is die onvermoë om sinvol in situasies te reageer. Persone voel dat hul beheer oor hul liggaam en besluite verloor. So iemand kan ook in die tyd afgesny raak van familie, vriende, die werkplek en gemeenskap as geheel.
Na ‘n traumatise gebeurtenis -soos die dood van ‘n kind, ‘n ongeluk, aanranding, egskeiding, ontvoering, motorkaping, plaasaanval, bankrotskap en die lys gaan aan – kan die persoon in skok ingaan. Tekens van skok kan insluit:
- Persoon staar strak voor hul uit
- Hartkloppings
- Lighoofdigheid en naarheid
- Onsameangende spraak en vreemde stemtoon
- Die buite-die-liggaam-gevoel
- Stomheid
- Oormatige kalmte
- Die skok wat intree by trauma is ‘n sielkundige meganisme wat outomaties inskop.
WORD ‘n TRAUMAHELPER
Die opleiding is ‘n praktiese sessie van 09:00 tot 12:00 en dek die volgende temas:
- Hoe om ‘n veilige ruimte te skep
- Doen ‘n ontleding van behoeftes en bekommernisse
- Hoe om onmiddellike basiese behoefte | nood aan te spreek (bv veiligheid)
- Hoe om te luister sonder om druk uit te oefen
- Hoe om mense te bemoedig en te kalmeer
- Die regte rigting: help met die gepaste inligting, dienste en steun wat polisie en hospitaal insluit
- Hoe om mense te beskerm teen moontlike gevaarlike situasies of persone.
Ons leer in die Woord (Matteus 22:37 – 40) dat ons twee belangrike opdragte het: ons moet die Here ons God dien met alles wat ons is EN gelykstaande hieraan, moet ons ons naaste so lief soos onsself hê. Alles wat ons moet doen, word in daardie twee opdragte ingesluit.
Elkeen gaan een of ander tyd deur ‘n traumatise gebeurtenis. Almal ervaar trauma anders. Hierdie opleiding gaan jou bemagtig om meer as net ‘n gewillige oor te wees. Dit gaan jou praktiese raad en hulpmiddels gee om ‘n traumahelper te wees sodat jy die grootste opdrag kan uitvoer, om mekaar werklik lief te hê, veral in ‘n tyd van trauma.
Om die sessie by te woon, bespreek by 073 207 9079 en besoek die FaceBook-groep #1000Women1Voice waar al die hulpmiddels ook beskikbaar is.
Radio Tygerberg 104fm bied ook gratis beradingsessies aan by sy kantore in Parow met ‘n span van opgeleide beraders wat weeksdae vanaf 08:00 – 16:30 beskikbaar is. Afsprake kan gemaak word by 0861 104 104. Die stasie het ook ‘n aktiewe gebedspan wat alle gebedsversoeke hanteer. Versoeke vir gebede kan na gebed@104fm.co.za gestuur word of via Whatsapp 084 661 4104, sms na 32716 of via FaceBook Messenger.