Dagstukkies met Ziva 27 Februarie 2019

Februarie 27, 2019

Jesaja 44:3: #Dorstig

27 FEBRUARIE 2019

“Want Ek sal water giet op die dorsland en strome op die droë grond. Ek sal My Gees op jou kroos giet en My seën op jou nakomelinge.”

Wanneer ‘n mens ouer word kom daar al hoe meer vrae oor die toekoms. Vrae soos: wat sal gebeur as die ekonomie in duie stort? Sal my pensioen voldoende wees? Wat gaan van my word as ek myself nie meer kan help nie en mediese versorging nodig het? Dit is sulke tye wat ek net weer opnuut kan terug kyk na die bloudruk van God se Woord vir die volk Israel.

In Jesaja se tyd was die toekoms vir Israel ook nie rooskleurig nie. Hulle het heel waarskynlik dieselfde vrae gevra wat ek en jy vra. Die profeet het sy volk ook geen finansieelversekerde toekoms beloof nie. Maar één ding het hy baie duidelik gestel, Wanneer jy aan die toekoms dink, dink aan jou Skepper! Hy het jou geskape en Hy is die bron van jou lewe! Daarom hoef jy geen angs te hê oor die toekoms nie. Jou God is met jou. Hy gee sy Gees aan jou en Hy hou die wag oor jou.

As ek en jy dus seker wil wees oor die toekoms moet ons bewustelik daaraan dink dat ons nie alleen is nie, maar dat ek en jy aan die lewende God behoort. Verklaar vandag in die naam van Jesus Christus dat God die enigste bron van jou lewe is! Amen

In Sy Liefde altyd