Dagstukkies met Reinhard 9 April 2019
April 9, 2019
Jakobus 1:19: #Luister
“So dan, my geliefde broerders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.”
Ek wonder of jy vir my kan sê wat is die vinnigste manier om in die moeilikheid te kom. Dit is maar ‘n menslike ding. Ons doen dit almal. Ons reageer. Ons is baie vinnig om te praat en dit te sê wat ons pla. Ons spreek maklik mense aan en wys uit wat hulle almal verkeerd doen. En dan in daardie oomblik is ons besig om of op te tree in ‘n sondige natuur deur uit woede te reageer of ons is besig om nie in liefde met mense saam te leef nie. Die Woord is baie duidelik in die dinge wat ons moet doen. En herhaaldelik sê die bybel vir ons ons moet versigtig wees om baie te praat en eerder stil te wees en te luister. Want die oomblik wat ek luister dan besef ek dat God met my kan praat en vir my kan lei in dit wat ek veronderstel is om te doen en te sê. Jesus was daardie voorbeeld toe Hy sê: “Ek sê niks as Ek nie hoor dat My Vader dit sê nie.”
Is daar iets wat ek en jy kan sê vandag? Kan ons bely en sê dat ons praat net wanneer ons gehoor het dat God met ons praat? Jakobus 1:19 sê vir my: “So dan, my geliefde broerders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.” Om te praat gaan baie keer gepaard met kwaad raak, maar om te luister wys wie en wat God eintlik in jou lewe is. Dit wys na ‘n volwassenheid, iets wat jy nie kan koop of kan aanleer nie. Dit is iets wat jy kweek in jou binneste deur om tyd saam met God te spandeer en om te luister na Sy leiding.
Kom ons bid saam:
Dankie Here dat ek kan weet dat ek moet stilraak en luister na dit wat U vir my sê. Dat ek sal optree in die manier wat U my lei en nie uit my eie woorde en eie begeertes sal optree en dinge sal sê wat eerder kon gebly het nie.
Seëngroete