Dagstukkies met Reinhard 12 April 2019
April 12, 2019
Openbaring 3:20: #Luister
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”
Wanneer jy in jou middel 40’s of 50’s is dan onthou jy sekerlik toe jy ‘n kind was dat wanneer daar mense aan die deur geklop het was daar ‘n groot opgewondenheid want iemand het kom kuier. Dit was die tye voor selfone en wanneer mense afsprake met mekaar gemaak het. Jy het net opgedaag by ‘n vriend of ‘n kennis of selfs familie en mense was bly om jou te sien. Deesdae is dit nie meer so nie. Ons sê sommer vir ons vriende en familie dat as hulle nie genoegsame kennis gee nie, moenie eers kom nie want jy gaan dalk nie reg wees nie. Ek dink die ou dae was ‘n bietjie beter! Ons was bereid om met mekaar te gesels en met mekaar tyd te spandeer en mekaar te ontvang in ons tuiste. Dit het nie net ‘n effek op ons persoonlike en emosionele lewe nie, maar ook ons geestelike lewe, dat ons vir God ook in dieselfde boksie sit deur te sê: “Here, ek haal U uit wanneer ek kerk en selgroepie toe gaan, maar die res van die tyd moet U eintlik nie vir my pla nie, Here.” Die hartseer deel is is dat ek en jy is armer as gevolg daarvan.
Openbaring 3:20 sê: “Kyk, ek staan by die deur en Ek klop en as jy my stem herken sal jy dit vir My oopmaak en sal Ek na jou toe inkom en ons sal ‘n feesete saam geniet.” Vir my en jou om saam met God te wees is altyd iets feestelik. Dit is altyd wonderlik en transformerend. Miskien moet ons die nuwe manier van dinge doen een kant sit en bietjie terugkyk na die verlede toe en te onthou hoe God vir my en jou hanteer het. God is ‘n God van samesyn. Ek wonder of jy die klop aan die deur al gehoor het wanneer God by jou ‘n draai kom maak het.
Kom ons bid saam:
Here, dankie dat U nie opgee net omdat ons nie die deur die eerste keer oopgemaak het nie. Dankie dat U aanhoudend by ons huis aankom, by die kamers van harte, en aanhou klop om te probeer inkom. Here, help ons om getrou en gehoorsaam te wees sodat wanneer U klop dat ons U stem sal herken en die deur sal oopmaak. Amen
Seëngroete