Dagstukkies met Louise 14 Oktober 2019

Oktober 14, 2019

14 OKTOBER 2019

 

Jesaja 35:4#Vreesloos

Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.”

Dit voel vir my asof hierdie teksvers geskryf is vir my en jou in 2019.  Ek weet nie of jy ook so bang en bekommerd is oor al die moord, dood en verval in ons gemeenskap nie.  Ek het tot die besef gekom, dat dit wat ons hier beleef ‘n geestelike aanval is wat homself uitspeel.  Maar ek en jy kan ten spyte van dwaalkoeëls, moord, verkragting, diefstal, werkloosheid en ‘n ekonomie wat lyk asof dit uitmekaar val, weet dat God ons belowe dat die wraak Syne is.  Maar nie sommer enige wraak nie – maar wel goddelike wraak.

Vir my beteken dit dat God weer vir Satan gaan herinner dat Hy alleen God is. Dat hierdie goddelikke wraak vir my en jou verlossing gaan bring.  Maar dit beteken dat ek en jy vreesloos sal moet staan.  Dat ons ten spyte van onsekerheid en bangheid kan voortgaan goed doen met die volle wete, dat God als sal laat uitwerk.