Dagstukkies met Henry 26 Augustus 2019

Augustus 26, 2019

 

26 AUGUSTUS 2019

Jakobus 4:7:  #Onderdanig

“Onderwerp julle dan aan God.  Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug.”

Daar is ‘n plek waar dit so veilig is dat die duiwels nie eers aan jou kan raak nie en nee, dis nie eendag in die hemel nie.  Dis nou, hier op aarde. Wat sal jy betaal om op daardie veilige plek te kan wees? Absoluut niks! Tog is daar ‘n prys wat betaal moet word. Sien satan is trots se baas. Hy leef in die realm waar trots heers en daar word geen nederigheid gevind nie. Nederig is ‘n posisie wat beklee word deur die wat hulle aan God onderwerp. Alles wat hulle doen, word gedoen met God in gedagte. Hulle is nie ingestel op wat hul emosies  wil doen of hê nie – hulle wag op die Here om hulle te versadig met die beste.

Onderdanigheid is die deur waardeur jy moet stap na die realm waar duiwels nie kan leef nie.

Hoe kom ek op daardie plek waar ek met oorgawe myself onderwerp aan God? Wel, jy moet jouself oortuig deur die Waarheid. Jy moet besluit of God vir jou is en of Hy teen jou is. Jy moet besluit of God jou lief het en of Hy jou haat. Dit klink dalk belaglik, maar soveel mense kan eenvoudig nie hulle onderwerp aan die Here nie. Probleme en uitdagings het hul moontlik oortuig dat God nie oor hul besorgd is nie. Hierdie oortuiging maak hulle negatief teenoor God en negatiewe denke vestig die onvermoë om God se krag te sien of te ervaar. So kyk bietjie waarvan jy regtig oortuig is en verander dit as moet.

Sê bietjie prys die Here!