Dagstukkies met Helané 1 April 2019
April 1, 2019
Jesaja 43:4: #Waardevol
“Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek en volke vir jou lewe.”
Die Almagtige Vader het geweet wat ons doel vir Sy koninkryk is voordat ons nog in hierdie wêreld gekom het. Ongelukkig weet die vyand dit ook. Hy weet watter impak jy eendag gaan maak en watter bedreiging jy gaan wees vir die koninkryk van duisternis mits jy WEET wie jy is in Christus en in daardie identiteit rus. Hy wil daardie sekerheid vernietig en so dan God se plan vir jou en Sy koninkryk belemmer. Sy teiken is jou verstand en sy wapens is leuens. Deur hierdie leuens wil hy jou identiteit in Jesus Christus kom steel. Jy moet glo dat jy niks werd is nie en dat niemand jou liefhet nie. Jy lewe vir die opinie van ander en nie jou Hemelse Vader nie. Jy gaan nooit voel dat jy goedgenoeg is nie.
2 Korinthiërs 10:5 sê uitdruklik vir ons dat ons elke gedagte gevangene moet neem. Jy moet dan vir jouself afvra: Is hierdie gedagte van die Here of van die duiwel? As dit nie opbouende of liefdevolle gedagtes is nie is dit verseker nie van die Here af nie en is dit ‘n blatante leuen! God se gedagtes oor jou is net goed – jy word hooggeag! Besef jy hoe waardevol jy is? Besef jy hoe waaghalsig God se liefde vir jou is? Hy sal die 99 skape los om die een verlore skaap te gaan vind. Die Here het jou vir ‘n rede geskape en jy het ‘n groot doel en roeping. Ons moet die doelbewuste besluit maak om nie na ander mense se opinies oor ons te luister nie. Meeste van daai opinies kom van ‘n plek van seer en bitterheid wat niks eens met jou te doen het nie. Dis die vyand se leuens. Jy is ‘n kind van die Almagtige God wie ‘n nasie sal vernietig om jou lewe te behou.
Vra vandag vir die Here om jou te help om elke dag jou gedagtes te vernuwe en kies elke dag om te glo dat jy waardevol is vir Hom en dat Hy jou baie liefhet. Sodra ons gesonde en goddelike gedagtes van onsself vasvang en rus in ons identiteit in Christus sal ons vinniger in lyn kom met God se plan vir ons.
Jesus Liefde