Dagstukkies met Elize 17 Junie 2019
Junie 17, 2019
Hebreërs 12:28-29: #Vuur
“Laat ons wat ‘n onwankelbare koninkryk ontvang het, dan nou dankbaar wees. Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ‘n verterende vuur.”
Wat ‘n geskenk om van ons deernisvolle Vader te ontvang! Toegang tot sy onwankelbare koninkryk! In hierdie wêreld kan als geskud word: ons verhoudings, gesondheid en lewens.
Maar die troos is: Niks kan God skud nie! Hy is onwankelbaar en verander nie. Hoe dankbaar moet ons wees vir hierdie ewige troos! En as hy ons toegang gee tot hierdie koninkryk verander Hy ons met sy verlossende vuur. Ons moet Hom loof omdat Hy skeppend, magtig en regverdig is om juis in te tree en ons te vernuwe met Sy vuur, ‘n vuur wat vernuwing bring.
Die diep oranje vlamme van sy goedheid en krag wat reinig en suiwer. So ‘n verterende sielsvuur is ‘n openbaring van die Here se mag en juis daarom moet ons met ontsag met hom omgaan.
So dikwels het ons juis vars vuur van die Here nodig. Nié sommer net ‘n enkel vlam nie, maar ‘n vuur wat die onnodige kan wegbrand. As ons ‘n stryd met gedagtepatrone het is dit die vuur van nuwe denke wat skoonbrand. Hieruit word nuwe gedagtes gebore, God se gedagtes vir ons lewens. Gewoontes en karaktertrekke word deur God se vuur gesuiwer. Daarna kan ons meer opregte lewens lééf. Hy bly ons gunsgenoot, Skepper van suiwer en edel harte.
Vrede / Shalom