Dagstukkies met Dennis Francis Opsomming Week 1

Januarie 6, 2019

TEMA: #NUWE BEGIN

DAGSTUKKIES MET DENNIS FRANCIS OPSOMMING WEEK 1 JANUARIE 2019

Dit was die eerste week in die nuwe jaar, 2019, ‘n jaar van nuwe vooruitsigte, ‘n jaar van nuwe dinamika, daarom kan ons nie met die ou dinge in die nuwe jaar ingaan nie.

Die profeet, Esegiel sê in Eseg.36:26 : “Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee.”

‘n Hart vol van ontferming en barmhartigheid en opregtigheid, want die hart kan bedrieglik wees.

Spreuke vermaan ons in Spr. 4:23 “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is oorspronge van die lewe.”

Daarom sê Jesaja 43:19 “Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja,Ek maak ‘n pad in die woestyn en riviere in die wildernis” Met ander woorde na ons hart reg is word ons gefokus want God maak vir ons ‘n weg waar daar nie ‘n weg is nie.

Ons besef dan op nuut dat as dit nie vir die goedertierenheid van die Here was nie, ons sou om gekom het. Klaagliedere 3:22b en 23 verklaar die woord:”….want Sy barmhartigheid het geen einde nie; hulle is elke môre nuut, u trou is groot. Hoe meer dankbaar  kan ons nie wees nie?  Daarom sê Jeremia in Klaagliedere 3:24 “Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop.”

Met al hierdie dinge wat nuut is kan jy nie nog met die ou sondige lewe voort gaan nie, want 2 Kor.5:17 verklaar: “Daarom as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel, die ou dinge het verbygegaan, kyk dit alles het nuut geword.”

Ons wandel is nie meer dieselfde nie, ons spraak het verander en ons toekoms planne is in die hande van die Here volgens Spr.3:6 “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelyk maak.”

Dit alles, ‘n nuwe hart, nuwe weë wat gebaan is, die feit dat ons nog nie om gekom het nie en die totale omskepping in ons binneste sit ‘n huppel in ons stap, volmoed gemotiveer om hierdie jaar in te gaan met ‘n nuwe lied in ons hart. Dawid sê in Psalm 40:4 “En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die Here vertrou.

Mag die week se Dagstukkies ‘n seën gewees het vir julle, maar ons kyk uit na volgende week met die tema oor Wonderwerke.

Vrede / Shalom