Dagstukkies met Dennis Francis 11 Januarie 2019
Januarie 11, 2019
Markus 16:17-18: #Wonderwerk
“En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: In My Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem, en as hulle iets dodelik drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle hande lê, en hulle sal gesond word.”
Dit was van die laaste opdragte wat Jesus aan Sy dissipels gegee het voordat Hy in die hemel opgeneem is. Die woord sê duidelik vir die wat geglo het, dit beteken weereens sonder geloof kan daar nie wonderwerke plaasvind nie.
In Handelinge hoofstuk 8 was daar Simon, die towenaar, wat ook die mag wou gehad het om hande op die mense te lê, sodat hulle die Heilige Gees kon ontvang. Simon het geld aangebied, maar Petrus het hom bestraf en gesê: “Mag jou geld saam met jou vergaan, omdat jy gedink het om die gawe van God met geld te verkry. Jy het geen deel of lot in hierdie saak nie, want jou hart is nie reg voor God nie”. Wonderwerke kan jy nie koop nie. Dit is wat God kan doen deur die wat glo..
Markus 16:18a sê: “slange sal hulle opneem…sal dit hulle geen kwaad aan doen nie.” Handelinge 28 verwys na toe Paulus-hulle oppad na Rome was het hulle skipbreuk gelei en op die eiland, Melite, beland. Hier het hulle ‘n groot vuur gemaak en terwyl Paulus hout op die vuur gegooi het, het ‘n adder hom aan die hand gebyt. Hy het die adder in die vuur afgeskud, terwyl die inboorlinge van die eiland met groot afwagting gekyk het dat hy dalk dood sal neerval, maar die Here het hom deur gedra. Ons dien ‘n God van wonders.
Markus 16;18b verklaar: “Op die siekes sal ons die hande lê en hulle sal gesond word.” God is ‘n waarmaker van Sy woord. So vir die wat glo sal hierdie tekens volg. In Handelinge 28:8 het Paulus na die hoofman van die eiland, Pablius, se vader, wat siek gelê het van ‘n koors en buikloop, gegaan. Die woord sê: ”En nadat hy gebid het,hom die hande opgelê en hom gesond gemaak. Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Vrede / Shalom