Dagstukkies met Dennis 23 Julie 2019
Julie 23, 2019
Psalm 103:12: #Vergifnis
“So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.”
Mense is geneig om te sê ek vergewe jou, maar ek sal nie vergeet wat jy aan my gedoen het nie. Wanneer ons die karaktereienskappe van Christus Jesus het, sal ons die gesindheid van Hom openbaar, want Kolossense 2:9 verkaar: “In Hom woon die volheid van die Godheid liggaamlik, Hy wat vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Kolossense 2:13 verklaar: “En julle wat dood was deur die misdade en onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al julle misdade vergeef het.” Ons het die dood verdien deur al ons sondes en oortredinge, maar dank die Here vir Sy onvoorwaardelike vergewingsgesindheid.
Die krag van vergifnis is: Dit maak jou vry, daarom sê Jesaja 55:7: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.” Wanneer die Here ons vergewe dink Hy nooit weer daaraan nie, want Sy bloed reinig ons van alle dooie werke.
Psalm 103:12 beklemtoon dit ten sterkste: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” Mag die Here ons help om te vergewe en te vergeet.
Vrede / Shalom