Dagstukkies met CLF 4 April 2020

April 4, 2020

‘n Opregte hart

“Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe” (Spreuke 4:23)

 

Daar is ’n spreekwoord wat sê: “Jy mag nie sê wat jy wil nie, maar jy mag dink wat jy wil”. Dis nie heeltemal waar nie. Dis nie net wat ons doen nie, maar veral ook wat ons dink, wat hier diep binne-in ons aangaan, wat saak maak. Dit bepaal ons hele lewe. As ons die mooi en goeie dinge bedink, sal ons lewe ook mooi wees. Wat in ons gedagtes en hart omgaan, bepaal wie ons werklik is.

Die Here weet van al ons gedagtes. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie. Hy weet van ons planne en bedoelings. As daar weer verkeerde gedagtes in jou hart opkom, vra die Here om dit weg te neem. Bid soos in die Onse Vader gebed staan: “Lei my nie in die versoeking nie, maar verlos my van die bose”.

Wysheid is veral om versigtig te wees met wat in jou hart aangaan…

 

Here, U ken my hart. Help my asseblief om aan die goeie dinge te dink, en ’n skoon hart te hê. Amen.