Dagstukkies met CLF 30 September 2020
September 30, 2020
So maklik
“Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word,
jy en jou huisgesin’ ” (Handelinge 16:31)
Paulus en Silas het saam baie plekke besoek en God se woord verkondig. Toe hulle in Filippi kom, het hulle ’n vrou teëgekom waarin daar ’n bose gees was. Sy was ’n waarsêer wat vir haar eienaars baie geld daarmee verdien het. Toe Paulus die gees uit haar uitgedryf het, kon sy nie meer geld maak vir haar eienaars nie. Hulle was baie kwaad, en Paulus en Silas is toe daaroor in die tronk gegooi.
Terwyl hulle een nag in die tronk was, het hulle lofliedere tot God gesing. Daar het ’n groot aardbewing gekom wat die tronk se deure laat oopgaan het. Die bewaarder wou homself doodmaak omdat hy gedink het dat die gevangenes ontsnap het. Paulus het hom gekeer. Toe wou die bewaarder weet wat hy moet doen om gered te word. Ons teksvers is die antwoord.
Baie mense dink dis moeilik om gered te word, maar eintlik moet ons net vertrou op die Here Jesus. Dit is so maklik.
Here Jesus, help my om net te in U te glo. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.