Dagstukkies met CLF 30 Mei 2020
Mei 30, 2020
Jona is ongehoorsaam
“Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug,
weg van die Here af” (Jona 1:3)
Die Here het vir Jona opdrag gegee om na die stad Nineve toe te gaan. Hy moes aan die mense gaan vertel dat God hulle gaan straf oor hul sondes. Maar Jona was ongehoorsaam aan God en het gevlug. Hy het by die hawe van Joppe op ’n skip geklim wat na die ander kant toe op weg was.
Terwyl hy op die skip was, kom daar ’n groot storm op, en die skip wou sink. Die bemanning vind toe uit dat Jona van God af wegvlug, en het hom toe in die see gegooi. Daarna het die storm bedaar.
So baie keer probeer ons wegvlug van God af. Ons is ongehoorsaam en wil nie God se opdragte uitvoer nie. Maar die Here los ons nie uit nie. Hy werk met ons, al moet ons deur baie pyn en lyding gaan. As ek en jy God se koninkryk op aarde wil uitbrei, moet ons gehoorsaam Sy opdragte uitvoer.
Dierbare Here, vergewe my asseblief die kere wat ek nie U opdragte uitgevoer het nie. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.