Dagstukkies met CLF 30 Desember 2020

Desember 30, 2020

Die nuwe hemel en die nuwe aarde

“Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan’ ” (Openbaring 21:3-4)

Is hierdie nie wonderlike woorde nie! Wanneer ’n mens hierdie tekste lees, kan jy nie enigiets anders begeer as om in die hemel te kom nie. Wat ’n wonderlike God het ons nie, om nou al vir ons te sê wat ons na ons dood gaan ontvang. Dit is net so jammer dat daar duisende mense op aarde is wat dit nooit sal ontvang nie.

Ons wat vir Jesus as ons Verlosser aangeneem het moet elke dag bid dat die Heilige Gees mense se harte sal verander om ook eendag in die hemel te kan kom. Lees gerus die hele hoofstuk 21 van Openbaring, en jy sal sien hoe wonderlik die hemel is.

 

Here, ek kan nie vir U genoeg dankie sê dat u liefde ook vir my in die hemel sal bring nie. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.