Dagstukkies met CLF 29 Oktober 2020

Oktober 29, 2020

Die belangrikste

“Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het, en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte” (1 Korintiërs 15:3)

Wanneer ’n mens al die briewe wat Paulus geskryf het, lees en daaroor nadink, is dit meer as ’n mondvol. Dit lyk so moeilik en onmoontlik om alles te verstaan en te onthou. Om alles wat daar geskryf is regtig baas te raak, sal jare se Bybelstudie daaroor neem.

Gelukkig som Paulus dit vir ons mooi kort op in ons teksvers van vandag. As ek en jy glo dat Jesus vir ons sondes gesterf het, het ons die belangrikste uit al Paulus se briewe gekry. Ons moet nie oorweldig raak deur al die baie waarhede nie. En dít is eintlik ook die boodskap wat ons deur die hele Bybel kry.

Ons is baie bevoorreg om te kan verstaan dat God ons so liefhet dat Hy sy Seun Jesus gestuur het om vir ons sondes te betaal.

 

Dankie, Here Jesus, dat ek die belangrikste van u boodskap verstaan. Dankie ook vir die mense wat die Bybel geskryf het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.