Dagstukkies met CLF 29 Maart 2020

Maart 29, 2020

God is regverdig

“Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan die hongeres. Die Here bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is” (Psalm 146:7)

 

Ons as mense dink mos soms dat ons beter as ander  is. Ons oordeel so graag ander mense. Ons voel trots op onsself, want ons is mos nie so sleg soos ander nie, dink ons.

Vandag is daar baie mense wat oortree het en in ons tronke sit. Die tronke is oorvol. Wanneer ’n misdadiger gevang word, is ons baie bly: hy kry sy verdiende loon! Ons ken nie altyd daardie persoon se omstandighede nie. Ons moet versigtig wees om te oordeel, net God kan oordeel.

In ons teksvers staan dat God die gevangenes bevry. Hy sorg nie net dat hulle uit die tronk kom nie, maar bevry hulle ook van hul sondes.

Probeer om ook vir die kwaaddoeners in die tronke te bid, dat hul lewens sal verander, en ook dat hulle deur die Heilige Gees gelei sal word tot God se kinders.

 

Vader in die Hemel, vergewe tog die mense in die tronke se sondes. Help my om ook vir hulle te bid. Amen.