Dagstukkies met CLF 29 Junie 2020
Junie 29, 2020
Hoe om te bid
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik”
(Matteus 6:7)
Om te kan bid is ’n baie wonderlike voorreg. God het dit vir ons as mense moontlik gemaak om met Hom te kan praat. As ons in nood is, of as ons bly is, ons kan enige tyd van die dag of nag met die Here praat. Hy luister elke keer as ons bid.
Maar in ons teksvers waarsku Jesus ons om nie soos die heidene te bid nie. Hulle gebruik baie woorde, en bid so dat almal hulle moet hoor. Jesus sê dat ons selfs dáár kan bid waar niemand ons sien nie. Die Here sal jou gebed verhoor, want Hy weet wat ons nodig het nog voordat ons Hom vra.
Die Here hou van ’n eenvoudige gebed, selfs al het dit min woorde. Kyk maar na die gebed wat Hy vir ons geleer het. Hy ken my en jou hart, en weet wat ons nodig het.
Here Jesus, dankie dat U my vandag geleer het hoe om te bid. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.