Dagstukkies met CLF 29 Desember 2020

Desember 29, 2020

Vreugde in die hemel

“Hierna het ek iets gehoor soos die harde geluid van ’n groot menigte in die hemel wat uitroep: ‘Prys die Here! Die oorwinning, die heerlikheid en die mag behoort aan ons God!’ ” (Openbaring 19:1)

In die vorige hoofstukke van Openbaring lees ons hoe God die duiwel en al sy trawante, en ook al God se teenstanders, en mense wat nie aan Hom behoort nie, straf en veroor­deel. Deur hierdie visioene, ons kan sê gesigte, het Johannes gesien hoedat onreg uitgeroei
word, sodat goddelose mense kan besef wat God aan hulle sal doen.

Gelukkig hoef God se kinders nie vir die oordeelsdag te vrees nie. God sal sy kinders in hulle menigtes bymekaarmaak en saam met Hom neem. Johannes skryf hier van die groot vreugde in die hemel. God se kinders wat tot die end toe volhard het, loof en prys God saam daar in die hemel. Ek en jy moet so lewe dat ons ook eendag vir God in die hemel kan prys.

 

Genadige Here, dankie dat ek nou so ’n bietjie meer van die hemel kan verstaan. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.