Dagstukkies met CLF 28 Desember 2020

Desember 28, 2020

Bly glo

“Hier het die gelowiges volharding nodig, hulle wat die gebooie van God nakom en in Jesus bly glo” (Openbaring 14:12)

Openbaring gee vir ons ’n aanduiding van hoe dinge in die laaste dae, en op die oor­deelsdag sal wees. Dit is ook vir ons as ’n bemoediging gegee. Baie van die prentjies is vir ons moeilik om te verstaan, maar ons word versterk deur die wete dat ons net moet bly hoop en aan God se beloftes vashou.

In hierdie laaste dae word dit vir ons as Christene baie swaar. Ons teksvers sê ook dat elke gelowige volharding sal nodig hê. Dit beteken dat alle kinders van die Here tot op die laaste dag moet sterk wees, en getrou aan God bly.

Wanneer ’n mens besef hoe mooi en wonderlik dit in die hemel sal wees, moet ons vashou aan dit wat ons van Jesus en sy Koninkryk geleer het. Volhard tot die einde toe!

 

Here, gee asseblief vir my die krag en genade om tot op die einde toe aan U vas te hou. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.