Dagstukkies met CLF 27 Desember 2020
Desember 27, 2020
Geen trane meer
“Hulle sal nie meer honger en nie meer dors kry nie; die son sal hulle nie brand nie en ’n hittegloed ook nie, want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle herder wees en hulle na die fonteine met die water van die lewe lei; en God sal al die trane van hulle oë afdroog” (Openbaring 7:16-17)
Johannes het gesien hoe ’n groot menigte mense voor die troon van Jesus (die Lam) staan. Hulle was die mense wat gedurende hul aardse lewe baie moes swaarkry ter wille van hul geloof in God. Hulle het wit klere aangehad en vir God aanbid.
Al hulle swaarkry is nou verby. Hulle is in die hemel by God. Ons teksvers sê dat hulle nie meer dors of honger sal word nie, die son sal hulle nie meer brand nie, en die wonderlikste van alles is dat God al hulle trane sal afdroog.
Uit hierdie gedeelte kom ons agter hoe wonderlik
dit by God in die hemel is. Dit is maar net ’n klein bietjie van die hemel wat God vir ons wys. Ons het baie om na uit te sien.
Hemelse Here, ek weet verseker dat ek saam met U in die hemel wil woon. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.