Dagstukkies met CLF 26 Maart 2020

Maart 26, 2020

Die Here ken jou

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my” (Psalm 139:1)

 

So baie kere dink ons dat die Here nie veel van ons weet nie. Ons dink Hy is té groot en belangrik om Hom nog aan ons as mense te steur. Veral as ons in die nood is of dinge loop verkeerd, dan dink ons God het ons vergeet.

Nee, dis nie waar nie. Soos ons in Psalm 139 lees, ken Hy ons en weet Hy alles van ons af. Daar staan dat Hy ons gedagtes ken. Voordat ons nog praat, weet Hy wat ons gaan sê. Enige plek waar ons is, daar is God.

God ken ons al van voor ons geboorte af. Hy het ons gemaak. Hy weet en sien alles wat ons doen. As ons die mooi en goeie dinge doen, sien God dit raak. Ongelukkig sien Hy ook die verkeerde dinge wat ons doen.

Dat God alles van ons weet, is nie iets waaroor ons bang hoef te wees nie. Ons hoef nie van God te probeer wegvlug nie. Ons kan na God toe vlug, in sy arms in. Want God is genadig.

 

Liefdevolle Vader, dankie dat U ook vir my ken. Gee dat ek altyd volgens U wil sal lewe. Amen.

 

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.