Dagstukkies met CLF 26 Julie 2020
Julie 26, 2020
Die verlore skaap
“So is dit ook nie die wil van julle Vader in die hemel dat een van hierdie kleintjies verlore moet gaan nie” (Matteus 18:14)
Jesus is baie lief vir kindertjies. Daarom het Hy die gelykenis van die verlore skaap aan sy dissipels vertel. Daar was ’n man wat honderd skape gehad het. Op ’n dag het een van hulle weggeraak. Hy het die nege en negentig net so in die kraal gelos en die verlore skaap gaan soek. Toe hy hom kry, was hy so bly asof daardie een vir hom belangriker was as die res van die trop.
Die Here wil nie hê dat een kind verlore moet gaan nie. Dit is ons plig om vir kinders van kleins af van die Here te leer. Wanneer ouers hul kinders laat doop, belowe hulle aan God om hulle vir Hom groot te maak.
Dit maak nie saak hoe oud jy is nie, probeer altyd om vir kindertjies van Jesus te vertel. En wees goed vir kinders. Dit sal God se hart baie bly maak.
Gee vir my die wysheid, Here, om vir klein kindertjies van U te vertel. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.