Dagstukkies Met CLF 26 Februarie 2020
Februarie 26, 2020
God het sondaars ook lief
“Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan” (Psalm 25:8)
In die Bybel lees ons altyd dat God lief is vir sy kinders. Sy kinders is dié wat aan Hom gehoorsaam is en Hom dien en wat glo dat God se Seun Jesus Christus ons van ons sonde kom verlos het. God het sy kinders baie lief.
Maar in hierdie Psalm lees ons dat God ook sondaars liefhet! Elke mens op die aarde doen sonde. Ons doen aanmekaar verkeerde dinge. Ons het God nie bo alles lief nie. Ons is almal sondaars. Maar God het ook sondaars lief. Daarom het God sy Seun Jesus Christus gestuur om vir sondaars sy lewe te kom gee, sodat hulle van hulle sonde bevry kan word en die lewe ontvang. As Jesus nie vir sondaars kom sterf het nie, was ons almal verlore.
Dit is die goeie nuus wat ons aan almal kan vertel. En as verloste sondaars moet ons vir ander wys hoe wonderlik dit is om ’n kind van God te wees. Ons moet ’n voorbeeld stel deur ons manier van lewe, ons goeie dade, ons woorde en ons liefde. Ook deur die manier waarop ons ander vergewe, wys ons dat God ons vergewe het.
Dankie, Here Jesus, dat U sondaars liefhet. Dankie dat U ook my sondes vergewe het. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.