Dagstukkies met CLF 26 Desember 2020
Desember 26, 2020
Ons nuwe blyplek
“Voor die troon was dit soos ’n spieëlgladde see, helder soos kristal” (Openbaring 4:6)
Terwyl God aan Johannes bekend gemaak het van die eindtyd, het God Hom ook ietsie van die hemel gewys. Daar het hy onbeskryflike dinge gesien, soos in ons teksvers. Niemand kan weet hoe dit in die hemel lyk nie. Die prentjies wat Johannes teken laat mens dink aan wonderlike skoonheid, rustigheid en vrede. Ons lees ook dat daar geen plek meer sal wees vir sonde en swaarkry nie. Johannes het gesien hoe God dag en nag geloof en geprys word.
Alhoewel ons nie weet hoe dit in die hemel sal wees nie kan ons as gelowiges weet dat dit ’n wonderlike plek is wat baie beter is as hier op aarde. Ek en jy kan uitsien daarna om eendag saam met ons Here daar te wees. As jou saak met die Here reg is, hoef jy nie bang te wees om dood te gaan nie. Daar sal almal vrede en geluk hê.
Here, as ek eendag doodgaan, kom haal my asseblief, en neem my na U. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.