Dagstukkies met CLF 25 Oktober 2020
Oktober 25, 2020
Alles tot eer van God
“Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen,
doen alles tot eer van God”(1 Korintiërs 10:31)
Jongmense en kinders vra baie vrae. Dit is ook reg so, want so leer hulle wat reg en verkeerd is.
Toe ek nog ’n kind was en Sondae Sondagskool te gegaan het, het ons ook baie vrae oor die Bybel en die Here gevra. Op ’n dag het een van my maats aan die onderwyseres gevra hoe weet ons as kinders wat reg of verkeerd is. Haar antwoord het vir my so baie beteken dat ek dit tot vandag toe onthou. Sy het gesê dat as ons die Here saam met ons kan neem as ons iets doen, is dit reg. Wanneer ons egter iets doen waar ons die Here nie by wil hê nie, is dit verkeerd.
Vir alles wat jy doen, vra jouself af of Jesus dit saam met jou kan doen. As jou antwoord ja is, dan doen jy dit tot eer van God. As jou antwoord nee is, los dan liewer die dinge waarmee jy besig is.
Dankie, Here, dat U altyd by my kan wees, wat ek ook al doen. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.