Dagstukkies met CLF 25 Desember 2020

Desember 25, 2020

Jesus kom weer

“Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie” (Openbaring 3:11)

Dit is vandag Kersfees. Dit is die dag waarop ons herdenk dat Jesus duisende jare gelede gebore is. Hy het gekom om vir ons sondes te sterf, sodat elkeen van ons wat glo die ewige lewe kan hê. Dink net daaraan, as Jesus nie aarde toe gekom het nie was ons almal verlore mense.

Vandag se teksvers herinner ons daaraan dat Jesus weer gaan kom. Om die waarheid te sê, daar staan dat Hy góú sal kom. Die Here wil hê dat ons moet vashou wat ons het, en dit is die geloof in Jesus Christus. Niemand weet wanneer Hy weer kom nie, daarom moet ons elke oomblik gereed wees.

Ek en jy moet aanhou tot daardie dag. Die Here belowe dat sy kinders saam met Hom die oorwin­ning sal behaal, hulle name is geskryf in die Boek van die Lewe. Ons behoort vir altyd aan Hom.

 

Dankie, Here Jesus, dat U aarde toe gekom het. Help my om te volhard totdat U weer kom. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.