Dagstukkies met CLF 24 Desember 2020
Desember 24, 2020
Eendag
“Skrywe nou op wat jy gesien het, wat nou daar is, en wat hierna gaan gebeur” (Openbaring 1:19)
In hierdie laaste boek van die Bybel lees ons van die visioene waardeur God aan Johannes bekend gemaak wat in die eindtyd aan die gebeur is, en nog gaan gebeur. Johannes moes alles neerskryf sodat die gelowiges daarin troos kon vind. Die boodskap van God was dat die geskiedenis in sy hande is, en dat Hy ’n einde aan alle ongeregtigheid sal maak. Die Here sal al sy vyande, wat die duiwel insluit, vernietig. Daar sal dan geen sonde of onreg bestaan nie. God sal sy kinders wat aan Hom getrou gebly het, kom haal en hulle sal saam met Hom fees vier. Die gelowiges sal die nuwe hemel en die nuwe aarde erf.
As ons dit alles sien wat God vir sy kinders beloof, is dit meer as die moeite werd om ’n kind van God te wees. Ek en jy moet elke dag ons lewe aan die Here gee, sy wil doen en op Hom vertrou, sodat ons vir ewig by Hom kan woon.
Dierbare Here, dankie vir die onmeetbare gawes wat U vir my hou. Amen.
Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.