Dagstukkies met CLF 23 Desember 2020

Desember 23, 2020

My en jou plig

“Oor dié wat in twyfel verkeer, moet julle julle ontferm” (Judas 1 vers 22)

Judas het hierdie brief aan ’n groep gelowiges geskryf. Daar het mense by hulle aange­sluit wat met allerlei ander stories gekom het. Hulle het nie alleen die enigste Verlosser verwerp nie, maar ook allerlei losbandigheid goedgepraat. Dit het veroorsaak dat sommige gelowiges begin twyfel het of die apostels die waarheid vir hulle geleer het. Daardie dwaalleraars, soos hulle genoem word, het God se genade misbruik. Hulle het die gawe van God ontvang om te kan preek, maar gebruik hul talente om mense op die verkeerde pad te lei. Dit is ’n manier hoe die duiwel mense gebruik om God se werk in die wiele te ry.

Daarom vra Judas die gelowiges om die mense wat begin twyfel by te staan en reg te help deur die krag van die Heilige Gees. Hulle almal moet vashou aan hul geloof soos hulle geleer is.

Ek en jy ken ook mense wat oor die evangelie, en selfs oor God se bestaan twyfel. Miskien is dit van jou vriende of familie wat deur ander mislei word. Die Here verwag nou van ons, wat Hom ken, om sulke mense weer op die regte pad te help.

 

Here, gee my die wysheid om mense te help wat van u pad afgedwaal het. Amen.

Dagstukkies Met… is ‘n Radio Tygerberg 104FM-inisiatief en word moontlik gemaak deur CLF, die Christelike Lektuurfonds.